Oor vloek.co.za

Waarom 'n webblad oor vloek?

Daar is baie Afrikaanse webblaaie waar gevloek en geskel word. Maar daar is nog nie ‘n webblad wat spesifiek óór Afrikaanse vloekwoorde en verwante verskynsels handel nie. Ons probeer om dié gat te vul.

En boonop word hierdie bladsy gekoppel aan ‘n navorsingsprojek oor vloek.

Wat is die naam van die projek?

Wat de Vloekwoord! Multidissiplinêre navorsing en wetenskapskommunikasie oor vloek

Waaroor gaan die navorsingsprojek?

Vloek is ‘n fassinerende verskynsel wat ons nie net diep insig in menslike kognisie en neurofisiologie gee nie, maar ook in sosiale interaksies en magsdinamika. Baie min multidissiplinêre navorsing is egter gedoen oor vloek in die Suid-Afrikaanse konteks – ‘n leemte wat hierdie projek poog om te vul met insigte uit die Digitale Humaniora en met insette van en implikasies vir taalkunde, literatuurstudie, kommunikasiekunde, sielkunde, sosiologie, rekenaarwetenskap en die regte. In verskeie subprojekte word vrae soos die volgende beantwoord:

  • Watter wetlike verpligtinge het die eienaar/ontwikkelaar as ‘n webwerf vloekwoorde bevat?
  • Wat is die beste manier om objektiewe aanstootlikheidsgraderings vir Afrikaanse vloekwoorde te bepaal?
  • Hoe gebeur dit dat ‘n woord soos “befok” onder andere beide ‘goed’ kan beteken (soos in “Dit was nou befok gewees!”), en ‘kwaad’ (soos in “Hy is al weer befok!”)?
  • Wat is die standpunte van skrywers, dramaturge, digters, TV- en filmmakers, vervaardigers, regisseurs, akteurs, musikante, redakteurs, joernaliste, podsenders en bloggers oor vloek?
  • Hoe en waarom pas hierdie inhoudskeppers selfsensuur toe met betrekking tot vloek?
  • Hoe word vloek gebruik as ‘n taalinnovasie wat korttermyn- en/of vinnige taalverandering veroorsaak?

Vloek.co.za is ‘n veilige, tegnologie-ryk, eindgebruiker-gerigte projekwebwerf wat opgestel is om mense bewus te maak van die projek, nuwe samewerking te kweek, gebruiksgebaseerde data (beide korpusdata, en vraelys-/meningsopnamedata) te versamel, en om te eksperimenteer met interessante en kontemporêre maniere (soos podsendings, blogs, video’s en webinare) om met die publiek en die wetenskaplike gemeenskap te kommunikeer.

Die projek wil dus nie net nuwe, multidissiplinêre insigte in Afrikaanse vloekwoorde en vloekgedrag in die algemeen oplewer nie, maar sal ook effektiewe maniere ontgin om wetenskaplike kennis op nuwerwetse maniere aan te bied.

Watter subprojekte is daar in die projek?

Daar is op hierdie stadium ‘n vyftal subprojekte, elk met sy eie navorsingsvrae:

Subprojek A: Vloek en die regswêreld

Indien ‘n webwerf vloekwoorde bevat, watter regsverpligting het die webwerfeienaar/-ontwikkelaar?

Subprojek B: ‘n Ensiklopediese konstruktikon van Afrikaanse vloektaal (Vloekepedia)

Hoe sien ‘n gesaghebbende, navorsingsgebaseerde, gebruiksgebaseerde, ensiklopediese, aanlyn konstruktikon van Afrikaanse vloektaal daaruit?

Subprojek C: Vloek in die vermaaklikheidswêreld en media

Wat is die standpunte en houdings van inhoudskeppers in die vermaaklikheidswêreld en media (bv. skrywers, dramaturge, digters, TV- en filmvervaardigers, regisseurs, akteurs, musikante, redakteurs, joernaliste, podsenders en bloggers) oor vloektaal?

Subprojek D: Vloektaal, taalkundige innovering, konstruksionalisering en taalverandering

Tot watter mate word vloekwoorde/-taal as taalkundige innovering gebruik om versnelde (korttermyn)taalverandering te weeg te bring?

Subprojek E: Projekwebwerf

Watter nuwerwetse tegnologieë en metodes kan ingespan word om by te dra tot:

  • die bewusmaking van ʼn projek met die oog op die daarstelling van nuwe interdissiplinêre samewerking, asook die werwing van respondente;
  • verbeterde data-insameling;
  • ewekniebeoordeling van nietradisionele navorsingsuitsette (soos blogs en podsendings);
  • verspreiding van navorsingsuitsette as deel van populêre wetenskapskommunikasie.

Is ander subprojekte moontlik?

Soos wat die projek ontwikkel, sal nuwe subprojekte bygevoeg word om aan te sluit by die belangstellings van die medewerkers.

As jy voorstelle het, laat weet gerus vir Gerhard van Huyssteen.

Watter doelstellings en uitsette het die projek voor oë?

Die hoofdoel van hierdie voorgestelde navorsingsprojek is om die leemte in kennis oor en begrip van vloek in die Suid-Afrikaanse konteks aan te vul deur:

  1. taalnavorsing (hoofsaaklik gefokus op Afrikaans en tale in sy ekosisteem); en
  2. multidissiplinêre navorsing.

Die sekondêre doel van hierdie voorgestelde projek is om alternatiewe, hedendaagse geleenthede vir wetenskaplike kommunikasie te ondersoek, spesifiek gefokus op podsendings, blogs, video’s en webinare. Die navorsingsfokus sal spesifiek wees op hoe om:

  1. ewekniebeoordeling in sodanige kommunikasiekanale te inkorporeer en integreer;
  2. sulke middele te gebruik om multidissiplinêre belangstelling te stimuleer en nuwe samewerking te bevorder;
  3. hierdie kanale te gebruik om navorsing te aktiveer en bespoedig (bv. deur die verhoging van respondentdeelname); en
  4. hierdie kanale te gebruik om nuwe bronne van befondsing te ontwikkel.

Vloek as onderwerp is versigtig gekies om van hierdie sekondêre doelwitte hetsy te ondersteun, of andersins te belemmer. Dit behoort enersyds ‘n gewilde en toeganklike onderwerp te wees in beide kundige en niedeskundige gemeenskappe (ter ondersteuning van sekondêre foci (a) tot (c)), terwyl dit aan die ander kant potensieel omstrede is om befondsing te bekom (hindernis vir sekondêre fokus (d)).

Ander doelstellings sluit in:

  • om verslag te doen oor die navorsings- en ontwikkelingsproses in die vorm van:
    • 70 blogs (ten minste);
    • 50 podsendings (waarvan ten minste 30 onderhoude met inhoudskeppers sal wees);
    • 3 webinare (ten minste);
    • 1 databasis: Afrikaans Vloekepedia;
    • 1 korpus: Afrikaanse Twitterkorpus (maar ook ander korpusse wat ontwikkel kan word; beskikbaar gestel onder ‘n toepaslike lisensie en versprei deur die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne);
    • 1 projekwebwerf;
    • 4 wetenskaplike artikels of hoofstukke in boeke, wat gepubliseer moet word in relevante Suid-Afrikaanse of internasionale tydskrifte en ewekniebeoordeelde konferensiepublikasies;
    • 4 konferensieaanbiedings; en
    • 2 Magisterverhandelings;
  • om by te dra tot mensekapitaalontwikkeling en om ‘n groep van kundiges in beskrywende linguistiek en rekenaartaalwetenskap in Suid-Afrika te kweek deur beurse, toelaes of kontrakwerk aan te bied aan:
    • een postdoktorale genoot;
    • twee meestersgraadstudente;
    • twaalf assistente (voorgraadse studente, vier per jaar) vir data-insameling en -annotasie;
  • om nuwe navorsingsvraagstukke en -probleme te identifiseer soos hulle ontvou in die navorsings- en ontwikkelingsproses; en
  • om nuwe samewerkende netwerke vir toekomstige multidissiplinêre navorsing te bevorder.

Elke subprojek het spesifieke navorsingsvrae en doelwitte, soos hier bo uiteengesit.

Wie is betrokke by die projek?

Die projek geskied onder die vaandel van die Noordwes-Universiteit (NWU), in samewerking met medewerkers van o.a. die Universiteit van Pretoria (UP), Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Katolieke Universiteit Leuven (KUL).

Medewerkers wat reeds hulle samewerking aan die projek toegesê het, sluit in:

  • Projekleier: Prof Gerhard B van Huyssteen (NWU)
  • Prof Shole Shole (NWU)
  • Dr Martin Puttkammer (NWU)
  • Dr Liesbeth Augustinus (KU Leuven)
  • Mnr Peter Dirix (KU Leuven)
  • Me Suléne Pilon (UP)
  • Prof Naomi Morgan (UV)
  • Me Elmarie Claassens (privaat: kliniese sielkundige)
  • Me Elsabé Brits (privaat: wetenskapsjoernalis)
  • Me LiMari Louw (privaat: media)

Hoe kan ek 'n medewerker word?

Ons verwelkom mense wat onder die sambreel van die projek óf saam met ons navorsing wil doen, óf eie subprojekte wil begin.

Hoewel die projek aanvanklik op ‘n paar spesifieke temas fokus, staan ons graag oop vir ander voorstelle op ander vakgebiede, ander tale en ander temas.

Selfs al is jy nie ‘n navorser verbonde aan ‘n navorsingsinstelling nie, kan jy dalk selfs betrokke raak as:

  • veldwerker;
  • annoteerder;
  • gasblogger/-vlogger;
  • nagraadse student;
  • ewekniebeoordelaar/keurder;
  • kommentaarkeurder;
  • ens.

As jy voorstelle het, laat weet gerus vir Gerhard van Huyssteen.

Wie besit die webblad?

Die webblad is ontwikkel en word besit deur Viridevert NPC (2016/411799/08), ʼn maatskappy sonder winsbejag wat by die SAID geregistreer is as ʼn opvoedkundige openbare weldaadsorganisasie (OWO) met belastingvrystelling (ʼn sogenaamde “artikel 18(a)-maatskappy”) en met ʼn eie bankrekening by FNB. Viridevert NPC het o.a. voorheen finansiering van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) ontvang vir die ontwikkeling en instandhouding van die Beter Afrikaans-platform, wat in 2018 aan die ATKV geskenk is.

Die drie direkteure van Viridevert is professor Gerhard van Huyssteen (NWU), advokaat Rob Foden (van die Pretoria Balie, asook gasdosent aan die Universiteit van Pretoria se Regsfakulteit) en doktor Sue de Kock (voorheen van die Universiteit van Johannesburg se Departement Voedseltegnologie). F&S Accounting and Auditing is aangestel as boekhouer/ouditeer van die maatskappy.

Waarom Viridevert NPC?

Ten einde die navorsing ten beste te operasionaliseer, is daar in oorleg met die  NWU besluit dat ʼn afsonderlike projekwebblad vir die projek opgerig en onderhou word. Dié webblad word armlengte ver van die NWU ontwikkel en gehuisves, onder andere ook sodat die navorsers maklik met nuwe tegnologieë kan eksperimenteer. Daar is dus ooreengekom dat Viridevert NPC die regspersoon sal wees wat die webblad besit, met formele ooreenkomste dat alle data vir navorsingsdoeleindes beskikbaar gestel word, en dat alle finansiering (of selfs moontlike inkomste) direk tot voordeel van die projek aangewend sal word. Nie-tradisionele finansies van die projek (soos byvoorbeeld advertensie-inkomste of finansiering van trusts) word dus ook binne Viridevert NPC verskans (omhein) en word jaarliks geoudit deur F&S Accounting and Auditing. Formele finansiële verslagdoening geskied dienooreenkomstig jaarliks in die openbaar.

Deel van hierdie armlengteverhouding is dat géén finansiering vanaf NWU-rekeninge na Viridevert NPC se rekening mag vloei nie; dit geld inter alia finansiering wat via die Nasionale Navorsingstigting (NSS) of ander instellings in ʼn NWU-rekening betaal word.

Die implikasie hiervan is dat Viridevert NPC volledig verantwoordelik is vir die finansiering van ontwikkelings- en bedryfskoste vir die webwerf.

Wie finansier die projek?

Die opstelling van die webwerf word op hierdie stadium deur Viridevert NPC gefinansier (d.i. persoonlike beleggings deur die drie direkteure).

In September 2019 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns finansiering van R50 000 aan die projek toegesê, met die onderneming om die projek vir nog twee jaar daarna te finansier.

‘n Fondsaansoeke is ook by die Nasionale Navorsingstigting (NSS) ingedien.

Kan ek die projek finansieel ondersteun?

Een van die doelwitte van die projek is juis om te kyk of ‘n mens ander, alternatiewe bronne van finansiering vir navorsing kan skep.

Aangesien Viridevert NPC by die SAID geregistreer is as openbare weldaadsorganisasie, kan dit vir jou belastingvoordele inhou om die projek finansieel te ondersteun.

As jy voorstelle in dié verband het (soos byvoorbeeld om op die webblad of in die podsendings te adverteer), laat weet gerus vir Gerhard van Huyssteen.

Hierdie webwerf maak gebruik van koekies.  Hier is meer inligting oor koekies.

Hierdie webblad bevat kru taal, vloekwoorde en volwasse onderwerpe.

Is jy ouer as 18?