Knaters, ballas, pere, pille, eiers, klokke, toggos (uitgespreek [tɔ.xɔs]), ghoens of balle – alles veilig gehuisves in ’n kombeursie, saadsak, balsak of twaksak. Die geheel? Dis nou die kinderfabriek, of so seg hulle.
Het ek iets vergeet? O ja, testikels en testes (enkelvoud: testis) in ’n skrotum. Laat ons dit oor eersgenoemde hê.
Kultuurdiere
Al vir miljoene jare bestaan daar ’n ritueel onder primate: Twee mannetjies wat solidariteit aan mekaar wil bewys, sal aan mekaar se genitalieë sit en vroetel. Só vertel dr Dario Maestripieri, ’n vooraanstaande sielkundige en primatoloog aan die Universiteit van Chicago (VSA). Dit het geen seksuele konnotasies nie, maar is eerder ’n groetvorm en ’n manier om te toets of hulle mekaar kan vertrou. Dis nou maar elk se gouigheid …
Dié sosiale gedrag is egter nie beperk tot primate nie.
Wat sê die Bybel?
Reeds geskryf iewers tussen die 10e en 5e eeu VHJ, in die Hebreeuse Bybel (d.i. die christelike Ou Testament) lees ons van presies dié gebruik as Jakob vir Josef sê:
"Bewys my nog ’n laaste guns. Sit jou hand onder my
heup en beloof dat jy my met liefde en eerbied sal behandel en my nie in Egipte sal begrawe nie." (1983-vertaling van Genesis 47:29; kyk ook Genesis 24:2-3)
In een Engelse vertaling, die Good News Translation, het die vertalers getrouer aan die kulturele werklikheid vertaal:
"Place your hand between my thighs and make a solemn vow that you will not bury me in Egypt."
En die Romeine?
Ook in antieke Rome was daar die gebruik dat twee mans op dieselfde vroetelende wyse as die primate hulle alliansie beëdig het. Of as ’n man in ’n openbare forum moes getuig, het hy dikwels sy éie testikels vasgehou as deel van die eed. Jy het as ‘t ware jou testikels (of jou manlikheid) aangebied as die waardevolste ding waarop jy kon sweer – net soos wat mense dikwels op die graf van hulle moeder sweer.

Enige getuie is in Latyn ’n testis (‘getuie’) genoem. Dié woord kan nog verder teruggelei word as ’n samestelling van die Proto-Indo-Europese woorde *tréyes (‘drie’) en *steh₂- (‘om te staan’). ’n Getuie is mos ’n derde, onpartydige persoon wat instaan vir iemand anders, of vertel van ’n saak.
Engels, Nederlands en Afrikaans
Uit hierdie Latynse testis (‘getuie’) sien ons vandag nog die verbandhoudende Engelse testify (‘om te getuig’), testimony (‘getuienis’) en ons eie testament (as ‘t ware ’n getuienis van jou laaste wil).
Deur middel van betekenisspesialisering het die ding wat die testis (die persoon) dus dikwels vasgehou het terwyl hy getuig het, ook begin bekendstaan as testis, met die meervoud testes – net soos wat ons dit vandag ook in Afrikaans en Engels gebruik. En siende dat almal nou nie grootpraters of goedbedeeldes was nie, het die verkleinwoord testiculus ’n algemene benoemer geword.
Met ’n hink-stap-sprong het testiculus in Vroegnieunederlands testicul geword, later testikel in Nederlands, en so kom erf ons hom toe ook in Afrikaans.

Gerhard B van Huyssteen
Term: betekenisspesialisering
betekenisspesialisering (ook bekend as semantiese inkorting. Engels: meaning specialisation; semantic narrowing)
Die betekenis van woorde verander voortdurend – soms oor korter periodes, meestal oor langer periodes. Een van die prosesse verantwoordelik vir betekenisverandering, is betekenisspesialisering: die proses waardeur ’n spesifieke onderdeel van die betekenis van ’n woord as ‘t ware beklemtoon word, sodat die woord begin om ook of slegs daardie betekenis te hê.
Byvoorbeeld: In Latyn het testis verwys na ’n persoon wat getuienis aflê (met die betekenisonderdeel dat hy dikwels só gemaak het deur sy genitalieë vas te hou). Met verloop van tyd vind betekenisspesialisering plaas: In plaas daarvan dat testis slegs na die getuie verwys, verwys dit voortaan óók na die liggaamsdeel wat die getuie vashou. Mettertyd het dit gebeur dat testis slégs na die liggaamsdeel verwys, soos wat ons dit vandag nog ken. Die betekenis van die woord is ingekort.
Ander prosesse van betekenisverandering sluit onder andere in betekenisuitbreiding (die teenoorgestelde van betekenisspesialisering), verbleking, pejorisering, meliorisering, metaforiek, metonimie.
Lees meer op Wikipedia.
Bronne: testikel
- Bible.com
- Biblehub.com
- BlueLetterBible.org
- Etymologiebank
- Etymonline
- Katz, Joshua T. 1998. Testimonia Ritus Italici: Male Genitalia, Solemn Declarations, and a New Latin Sound Law. Harvard Studies in Classical Philology 1998:183-217. doi: 10.2307/311342.
- Myer, Larry. 2014. A “Witness” and a “Testicle”? A Linguistic Analysis of the Latin Word “Testis”.
- Wiktionary: English
Haal hierdie blog aan
Van Huyssteen, Gerhard B. 2019. "Waar kom die woord "testikel" vandaan?" Vloekcoza-blog. https://vloek.co.za/blogs/waar-kom-die-woord-testikel-vandaan.
Blogstatus en -geskiedenis
Geskiedenis (teruglopend)
- 2019/12/02: Finalisering van konsep. Beskikbaar vir ewekniekeuring en kommentaar.
- 2019/07/13: Plasing van konsep.
Comments are closed.