Die vloek van die kitaar

0

Kragwoorde in Afrikaanse musiek: Perspektiewe op die ontstaan, funksionaliteit en normalisering van vloek in lirieke

“O, my God, wat het ons hier?”*

Dit is die jaar 1989. Politieke onrus, P.W. Botha se atmosfeer van die “totale aanslag”, sensuur en sanksies is aan die orde van die dag.

Die Afrikaner van die dag is ’n produk van Calvinisme, ordentlikheid, selftrots en rasegtheid.

Maar ’n nuwe beweging sou openlik, middelvinger omhoog, dié boustene tot in hul fondamente skud.

Voëlvry

Die Voëlvrybeweging, wat eintlik maar ’n deurmekaarspul was en nie werklik ’n georganiseerde poging tot opstand was nie, het hul verset teen apartheid na die verhoog geneem, en nie met toesprake nie, maar met musiek.  

En hulle het gevloek.

Trouens, al die mense wat ek genader het vir hul insigte ten opsigte van die ontstaan van vloekwoorde in Afrikaanse lirieke verwys eerste na Voëlvry, en spesifiek Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel.

“Ons was die moer in,” het Kombuis jare gelede in ’n onderhoud gesê. Hy het ook vertel hoe hy en Kerkorrel op pad was na hul eerste optrede by die Sterrewagteater in Bloemfontein. Kerkorrel het die motor afgeskryf. Kombuis het toe opgemerk dat die enigste ding wat nóg kan skeefloop, is dat een van sy snare tydens die vertoning breek.

En dit hét toe ook gebeur. Kombuis het in sy frustrasie “Poes!” in die mikrofoon geskree.

“Daardie volgende aand was daardie saal stampvol. Ek dink, vir my, was daardie die eintlike begin van die Voëlvrybeweging …”

Dit sou redelik wees om te aanvaar dat niemand tevore by ’n Afrikaanse musiekkonsert die woord poes op die verhoog geuiter het nie.

Sanger en liedjieskrywer Anton Goosen sê egter Kombuis wou nie onthou word as “die ou wat so lekker gevloek het nie”.

“Dit het ’n punt bereik waar mense uit die gehoor skree, vloek so bietjie vir ons, want dit was ’n nuwigheid.”

Goosen sê die Voëlvrybeweging was ’n “groot polities belaaide partytjie” wat musiek gebruik het om daaraan uiting te gee. “Die res was hype en skoktegniek.

“Dit was ’n nuutgevonde vryheid en vinger in die lug teen P.W.”

Die joernalis en musiekskrywer Jaco Nel, ook bekend as Angola Badprop, antwoord sonder om te aarsel dat die eerste vloekwoord wat hy in ’n Afrikaanse lied gehoor het, een van Kombuis s’n was.

Nel sê die Voëlvrybeweging se gebruik van vloekwoorde in lirieke was die eerste in Afrikaans waarvan hy bewus is.

“Die meeste van ons het eintlik maar net gelag daarvoor,” sê Nel. “Maar daardie ouens het vloekwoorde gebruik op ’n baie sterk manier.”

Die komiese aspek lê in hoe die gebruik van vloekwoorde soms bloot aspris was, om die preutse room van die Afrikanerdom af te pis.

“My got, Gert, dis ’n nuwe soort ossewa” uit Kerkorrel se “Ossewa” het geen funksionele waarde as blote skokwaarde nie.

“Dit was maar ’n vorm van rebellie,” sê Johan Jack Smith, redakteur van die ATKV-tydskrif Taalgenoot en ook voorheen frontman en liedjieskrywer van Volkspeler. “Niemand anders het dit gedoen nie. Dit was reeds taboe om te vloek; nou het jy ’n klomp bands op ’n openbare verhoog wat vloek… ek dink hulle was aspris, net om die establishment ’n bietjie meer uit te daag.”

Die protes was polities, en een van die mediums wat dié protes verwoord het, én wat uniek was aan die Voëlvry-bands, was om te vloek.

Afrikaanse protesmusiek se voorgeskiedenis

Protesmusiek in Afrikaans was egter nie opsigself nuut nie. Anton Goosen en sanger-liedjieskrywers soos David Kramer, en ander, het reeds in die laat-sewentigs en vroeg-tagtigs protesmusiek opgeneem. Goosen het byvoorbeeld geskryf oor die Groepsgebiedewet en die gedwonge verskuiwing van mense.

Maar, sê Goosen, hy het nooit gevoel dis nodig om te vloek om sy boodskap oor te dra nie. Hy gebruik eerder subtiliteit en suggestie, wat hy voel vir hom ’n meer doeltreffende benadering was.

Op sy album Bakgat (1981) is die meerderheid van Kramer se liedjies en satire rondom wit stereotipes uit die apartheidsera, maar waar hy vloek, is dit in Engelstalige songs.

Neem byvoorbeeld die lied “Frikkie”, met die aanvangsliriek, “Ag got man, life is so hard…”, waarin die kragwoord – die lasterlike “got”, ’n ander spelwyse vir "God" – wel Afrikaans is, maar in ’n Engelse lied gebruik word.

In sy lied “Kobus La Grange Marais” sing Kramer die volgende liriek, geskryf deur Christopher Hope:

[And] if what I hear about heaven is true,
[Well] it’s a racially mixed affair;
In which case, ons gaan kak da’ bo,"
Said Kobus La Grange Marais

Hieroor sê Kramer: “Dit was alles subversief, ek het in die kulturele grys areas opgetree.”

Die wisselwerking tussen politieke protes en die gebruik van vloekwoorde is dus opvallend, of dit nou ingespan word om te ontstig of ter wille van die beklemtoning van ’n bepaalde gevoelswaarde.

In “Swart September” sing Kombuis:

Van Tafelberg tot in Transvaal loop hensoppers weer deesdae kaal
maar is jy wit, bruin, swart of geel, kak almal in die symste taal
Sou jy haar nog liefhê, die ongerymde moedertaal
besef jy sy’s met clones en pidgins landwyd op die paal

Post-Voëlvry

Maar ná die demokratiese bestel was daar weinig om oor te protesteer, polities gesproke, en die Voëlvry-kunstenaars het in sommige gevalle groot kommersiële sukses behaal. Een van hulle is Kombuis, wie se vloekwoordliedjies soos “Autobank-vastrap” eintlik maar grapjasbraaivleisliedjies is. Hy kombineer ook in 2008 sy humor met protes teenoor die nuwe bedeling in “Die fokkol song”.

Die volgende protesbeweging sou ’n kultuuridentiese beweegrede hê.

Volgens Liny Kruger, ’n musiekpromotor en -skakelbeampte, was daar ’n groot leemte vir protesmusiek nadat die doelwitte van die Voëlvrybeweging uitgedien was.

“Hier in die laat-negentigs het ek ’n gesprek met iemand gehad waarin ek gevra het, waarheen skuif protesmusiek nou? Want dinge was uitgesorteer [polities], ons het nou ’n nuwe regering, wat nou? Waaroor kla ons nou? Waarvoor fight ons nou?”  

Min het Kruger geweet sy sou ’n paar jaar later ’n deurslaggewende rol speel in daardie skuif deur die promosiewerk vir ’n jong rock band uit Bellville te doen. Hul naam? Fokofpolisiekar.

Die begin van ‘n nuwe millennium

In 2003 het Fokofpolisiekar se eerste kortspeler (EP) As jy met vuur speel sal jy brand verskyn. En sommer uit die staanspoor het dié rockers dit duidelik gemaak dat hulle nie hier is om doekies om te draai nie. Die naam self – Fokofpolisiekar – is opsigself ondubbelsinnig. Hierdie is nie ’n country band nie.

Die naam Fokofpolisiekar is ’n onlosmaaklike deel van die groep se identiteit, sê Goosen. “Dit sou nie dieselfde trefkrag gehad het as hul naam ‘Skoertpolisiemotor’ was nie …”

En op daai einste EP maak hulle dit in die lied “Hemel op die platteland” duidelik dat selfs godsdiens – steeds ’n groot faktor in die lewens van die meeste Afrikaanse mense – ook nie hul woedende kulturele revolusie sou vryspring nie.

Kan iemand dalk ’n god bel
En vir hom sê ons het hom nie meer nodig nie
Kan jy, kan jy apatie spel?

Kruger sê die naam Fokofpolisiekar het dadelik geweldig baie aandag getrek, in die media en ook by die publiek. 

“Daar was ontsettend baie belangstelling in die groep. Almal wou oor hulle skryf. Die naam was beslis nuuswaardig. Maar onthou, die naam alleen sou nie die band kon dra nie. Daar is baie geskryf daarna oor hoe goed hierdie blerrie band is. Daar was veral, vreemd genoeg, baie belangstelling van die Engelse media.”

Maar daar was verbasend min teenkanting of optogte deur geskokte konserwatiewes, onthou Kruger.

“Ons het aan die begin vir hulle gesê veral die radiostasies en koerante gebruik nie vloekwoorde nie. En toe het ons besluit om ’n alternatiewe naam te gebruik en in die eerste persverklaring het ons ’n klousule ingesluit dat mense maar ‘Polisiekar’ kan gebruik.

“Die band was nie vreeslik sensitief daaroor nie, die naam was eintlik ’n groter ding vir die publiek as vir die band self. Hulle wou net musiek maak.”

En, sê Kruger, omdat hulle nie vreeslik gesteld was daarop nie, is die naam uiteindelik wyd aanvaar. Daar was selfs ’n grappie wat die ronde gedoen het dat die FAK beswaar gemaak het oor die naam Fokofpolisiekar. Dit moes kwansuis “Fokofpolisiemotor” wees.

Fokofpolisiekar en die nuwe revolusie

Nietemin, Fokofpolisiekar het die spreekbuis geword vir ’n nuwe tipe revolusie: ’n kulturele verwerping en eksistensiële kruispad vir ’n nuwe generasie wit Afrikaanssprekendes wat die tradisionele waardes van hul ouers afgesweer het sonder om te weet waarmee hulle dit kan vervang. Liriekskrywer Hunter Kennedy kon dié protes op ’n manier verwoord wat niemand voor hom kon doen nie.

Uit die lied “Fokofpolisiekar”:

Al die fucked-up kinders rook
Maar kyk mooi
Daar is iets anders fout
En ek wil beter verstaan
Wat is die oorsprong van my haat

En uit “Vernietig jouself”:

Daar is ‘n drang in my, ‘n instinktiewe haat
Vir instansies van die bewussyn
Kondisioneer my, Bybel vir my
Ons almal pak die kole, ons almal stook die vuur
Ons almal bou die mure wat idees bestry
Ons is die rebelle wat misluk het
Ons almal kak die reëls uit waaraan ons almal verstik het

Uit “Selfmedikasie”:

jissis, party dae voel’it vir my asof ek dit nie gaan maak nie
en dan kan ek nie verstaan hoekom jy vir my kwaad raak nie
hoekom ek nie kan onthou om die bed weer op te maak nie
hoekom ek bang is iemand breek in terwyl ek nie daar is nie

Skokwaarde?

Kruger sê die gebruik van vloekwoorde was nie om te skok of om aspris te wees nie. “Hulle’t gesing soos wat hulle praat. Ek dink dis bloot funksioneel. Maar ’n mens moet die vraag vra of hulle soveel trefkrag sou gehad het as dit nie vir daardie naam was nie. Dit was bevrydend, hoe harder jy dit kon gil, hoe lekkerder…”

Maar mettertyd het dié woede, en daarmee saam die vloekwoorde, weggekwyn.

Nel sê die eerste album was wat hom betref pure punk, maar een van die probleme was dat nie baie van Fokofpolisiekar se songs op die radio gespeel kon word nie.

“Hul musiek het nou kommersieel geraak. Neem byvoorbeeld hul song ‘Komma’ – dis kommersieel. Dis nie die tipe goed wat ek wil luister nie.

“Hulle het dit reggekry om te bly staan en hulle het dit nogal goed gedoen.”

Wat hulle ook reggekry het, sê Nel en Smith, is om die skokwaarde van vloekwoorde as’t ware normatief te maak.

“Vat ’n ou soos Paul Riekert van Battery 9,” sê Nel. “Dit is iemand wat baie sterk bewoorde goed skryf. En as hy die woord ‘fok’ gaan gebruik, dan is dit maar net ’n sterk manier waarop hy homself probeer uitdruk.”

Smith stem saam. Hy sê die vloekwoorde wat hy in Volkspeler se songs gebruik het, is funksioneel omdat hy met monoloë en karakters handel en dit is hoe hulle sou praat.

“Ons hét al probleme opgetel. Een jaar hier rondom 2011 het die Vrystaatse Kunstefees ons gevra om die woord ‘motherfucker’ nie te gebruik in ons song “Rakpakker” nie. Nou, motherfucker rym so goed met rakpakker. Toe verander ek dit maar na cocksucker.

“Ek het toe daarna niks weer van hulle gehoor nie…”

Die nuwe norm

Smith sê die gebruik van vloekwoorde in musiek is deesdae normatief omdat dit grootliks gekoppel word aan die boodskap wat jy wil oordra. “Hoe vloek jy nié as jy kwaad en gefrustreerd is nie?”

Nel sê daar was baie bands wat ná Fokofpolisiekar probeer het om dieselfde reg te kry deur hul songs te peper met kru taal, maar dit het nie lank gehou nie.

“Elke tweede woord is fok dit en fok dat, maar die ouens het niks gehad om te sê nie.”

Ook, sê Nel, Smith en Kruger, alle vloekwoorde is nie dieselfde nie.

“Sommige mense sal nog oukei wees met bliksem en donner, maar nie met ’n woord soos fok of jissis nie,” sê Smith.

Kruger sê die gehoor en mark is ook baie belangrik. “Iemand soos Juanita du Plessis of Theuns Jordaan sal byvoorbeeld nie maklik wegkom met ’n vloekwoord in hul songs nie, iemand soos Snotkop, miskien, maar die hoofstroom is meestal daarteen gekant. Mense weet wanneer jy ’n ding forseer.”

Konteks is alles, sê Kruger. Die gehoor, die mark, die boodskap en die Zeitgeist is alles bepalers van of vloekwoorde in lirieke funksioneel is al dan nie.

Sy glo vas Fokofpolisiekar het die gebruik van vloekwoorde in Afrikaanse musiek meer aanvaarbaar gemaak.

’n Goeie voorbeeld van ’n suksesvolle groep wat soms kragwoorde in hul lirieke gebruik is Spoegwolf, tans een van die gewildste Afrikaanse bands.

Danie du Toit, wat Spoegwolf se liedjies skryf en sing, sê hy probeer maar net skryf soos hy praat.

“Die songs is gewoonlik aan iemand wat direk aangespreek word, en dan probeer ek om te praat soos ek met daardie persoon sou praat.”

Voorbeelde van terloopse vloekwoorde in Spoegwolf se songs sluit byvoorbeeld dié reëls uit “Geel” in:

Ek het jou ontmoet
in al daai geel
jy’t daai doos by jou gehad
ja, die een wat my nagemaak het

Uit “Seer”:

Het jy my begrawe hier?
in daai uitgeskryfde
in daai opgefokte hart

En uit “Lenie Blou III”:

Jy was net
ne’entien jaar oud
Heilige wyn, fok
jy was rein

Du Toit sê hy het nie gedink Spoegwolf se musiek sou so wyd aanklank vind nie en dit eintlik aanvanklik maar vir familie en vriende geskryf.

Hy onthou nog toe hy die eerste keer ’n vloekwoord in ’n Afrikaanse lied gehoor het.

“Dit was in Piet Botha se “Goeienag, Generaal”:

Whitey jou oë op daardie dag was blou net soos die lug
En toe ons weer so kyk, het ’n AK jou fucked-up geskiet

“Ek kon dit nie glo nie, ek was nog ontelbaar jonk.”

Maar, sê hy, die feit dat Botha, wat selde in sy Afrikaanse liedere gevloek het, juis daardie woord gebruik het, het sy boodskap soveel kragtiger gemaak.

“ ’n Goeie boodskap is nie noodwendig ’n hele sin nie, dit is soms net die sentiment van ‘fok’, of ‘fucked-up’ of ‘jissis god’… daai is ook ’n boodskap.”

Is vloek ‘n big deal?

Du Toit sê die konteks is dus baie belangrik, maar hy glo nie juis in reëls en voorskrifte in musiek nie. “Almal moet vir hulself besluit.”

Hoewel hy ’n Christen is, sê Du Toit hy is moeg vir mense se verwagtinge ten opsigte van sy geloofsoortuiging of wat ook al vir sy musiek om aanvaar te word. “Dis crazy dat, vir kuns om aanvaar te word, dit heteroseksueel en Christelik moet wees – wat ek toevallig is. Maar ek sal dit eerder nié wees nie as dít is wat iemand van my verwag. Fok enigiemand wat van my verwag om enigiets te wees.

“Vloek is nie vir my ’n big deal nie.”

Nel sê daar is sangers vir wie vloek werk, maar vir ander nie. “Dit het gewerk vir mense soos Jack Parow en Fokofpolisiekar en Koos Kombuis, maar eintlik is daar bitter min ouens wat dit doen.”

Kruger stem saam. “Daar is eintlik ’n baie klein hoeveelheid sangers in Afrikaans wat vloek in hul musiek. Dis regtig nie ’n groot ding nie. Maar wat wel verander het, is dat dit meer aanvaarbaar geword het. Dit is nie meer iets om oor te skryf of debatteer nie. Die gesprekke daaroor is verby.”  

* Uit “Sit dit af” – Johannes Kerkorrel
Vloek van die kitaar is ’n verwysing na ’n lied van Valiant Swart

Lees ook:

Kommentaar is gesluit.

Hierdie webwerf maak gebruik van koekies.  Hier is meer inligting oor koekies.

Hierdie webblad bevat kru taal, vloekwoorde en volwasse onderwerpe.

Is jy ouer as 18?