Vloek op radio? Nie sommer nie

0

ʼn Vloekwoord sal ʼn mens nie sommer op Afrikaanse radio hoor nie, tensy dit dalk per ongeluk uitglip. En dan is daar gewoonlik iemand wat kla.

Cobus Bester, wat 37 jaar lank by die SAUK gewerk het, waarvan 17 jaar by die radioprogram Monitor, vertel indien iemand waarmee jy ʼn onderhoud voer oor die lug vloek, is daar nie veel wat jy daaraan kan doen nie. Baie jare gelede was daar ʼn tipe vertragingsmeganisme van ʼn paar sekondes wat gehelp het dat sulke woorde gou uitgesny kon word, maar nie meer later jare nie.

Koos Kombuis en Die Fokkol Song

Hy onthou baie goed in 2008 het Koos Kombuis se nuwe liedjie “Die Fokkol Song” uitgekom. Die liedjie verwelkom die toekomstige besoekers aan die Wêreldbekersokker by die lughawe. Ewe trots gaan Suid-Afrika nou vir die wêreld wys wat hy het:

Fokkol petrol; fokkol diesel
Fokkol TV en fokkol krag
Fokkol water in jou whiskey
Fokkol jokes om voor te lag
Fokkol pille by die clinic
Fokkol dokters as jy vra
Fokkol ouens om die vullis op jou pavement weg te dra

En so gaan dit gaan die gespot en politieke kommentaar aan.

Een naweekmiddag is dit tydens ʼn onderhoud met Koos Kombuis uitgesaai. Daar was vyf individuele klagtes by die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika, asook een vanaf die NG gemeente Brakpan-Wes, wat optrede teen die aanbieders geëis het. “Die vulgêre, platvloerse en skaamtelose beryming van die liedjie en die gesprek wat daarna gevoer is, is verwerplik van aard en behoort (sic) nie tuis in die geselskap van welopgevoede, ordentlike luisteraars nie,” het die kerk aangevoer.

In ʼn ander deel van die liedjie:

Sorry oor die airportbus wat alweer ʼn bietjie laat is
Sorry oor die potholes wat nog altyd in die straat is
Ons wil baie graag dit opfieks maar die workers het gestaak
En net toe ons daai kak uitgesort het, het ons Eskom power weer opgeraak

Die kerk het verder woedend kapsie gemaak: “Dit verg dringende optrede ten einde die betrokke persone tot verantwoording te roep en om te verseker dat soortgeluke (sic) uitsendings nie gedoen word nie. Allermins nie oor RSG nie! Daar word vertrou dat u hierde klagte op ʼn verantwoordelike en besliste wyse sal hanteer en ons op hoogte sal hou in hierdie verband. Benewens die platvloerse word ‘k*k’ is die een woord waarna in die liedjie verwys is en wat by herhaling gebruik is die woord F*kol.”

Prof. Kobus van Rooyen van die kommissie het al die klagtes verwerp. Hy het veral klem daarop gelê dat die liedjie nie skadelik vir kinders sal wees nie en dat kinders al basies almal die woord gehoor het. Hulle weet dit is ʼn vloekwoord. Dit is ook die vryheid van ʼn kunstenaar om die woord in die konteks te gebruik. In elk geval, die woord fokkol beteken net dit: niks. Dis fokkol.

Lees die klagtes en uitspraak hier:

Nog SAUK-stories

Cobus vertel 30 of 40 jaar gelede was reëls baie strenger met die invloed van die kerke en die Nasionale Party. “Ek sou nie eens die woord bleddie gebruik het nie. Vir baie mense is dit ʼn vreeslike vloekwoord”.

Hy vertel van die nuusleser Michael Todd wat by die Engelse diens gewerk het. Hy was beroemd daarvoor dat hy nooit afgesit kon word nie, maak nie saak wat gebeur nie. Sy ‘kantoor’ was die kroeg oorkant die SAUK. Een Sondagmiddag moes hy ook die kontinuïteitsverslag lees, en daar laat val hy van die papiere.

Soos hy afbuk en weer opkom, stamp hy sy kop teen die toonbank en hy sê oor die lug: "Jesus Christ! … will be coming to you from St Mary’s Cathedral at …"

Wat van RSG?

Kobus Burger is uitvoerende regisseur van drama by RSG, en hy hanteer ook die boeke wat voorgelees word. Fok en kak is woorde wat nie maklik deurgelaat word in die boekvoorlesings nie. Wel woorde soos stront, hel, donder en bliksem. Wat taboe is, is woorde wat byvoorbeeld kwetsend is vir mense met gestremdhede en wat rassisties is.

Ná 21:00 saans is daar egter meer ruimte vir volwasse of gewaagde inhoud. Met ander tye word daar net ʼn waarskuwing vooraan gesit, wat onder andere sal aandui dat dit sensitiewe luisteraars kan ontstel. “Deur die jare het mense meer oopkop geraak, ons kry nie meer so baie klagtes oor vloekwoorde nie. Mense kan ook die radio afskakel as hulle nie wil luister nie,” sê hy.

Dit is moeilik om RSG se twee miljoen luisteraars tevrede te stel, maar hulle waak ook teen selfsensuur. Veral wanneer dit by drama kom, is dit belangrik om te kyk of ʼn vloekwoord binne die konteks pas. Onlangs het hulle heelwat dramas gehad wat afspeel tydens die Grensoorlog. “Dit sal belaglik wees as ʼn sersant sê: ‘My maggies manne’!”

Oor godslastering is mense baie sensitief.

Die RSG-kunstefees het deur die jare egter baie tot toleransie bygedra, en luisterraars het begin aanvaar daar moet verruim word. Skrywers het ook meer gewaagd geraak, vertel hy. Hoewel niemand nog die woord poes in ʼn radiodrama gebruik het nie.

Die SAUK se riglyne

Die breë riglyne van die SAUK, soos ook gereguleer deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika, is dat jy nie vloekwoorde bloot mag gebruik om te skok, of oormatig mag gebruik nie. Dit word nie verban in programme nie, maar kan gebruik word wanneer dit verdedigbaar in die konteks is. Dit moet egter godsdienstige sensitiwiteite in ag neem. Jy mag veral nie vloek in programme gemik op kinders nie.

In 1996 moes Mohamed Shaikh, bestuurder van Afrikaans Stereo verduidelik waarom hy David Kramer se liedjie "Bloemfontein Blues" oor die sender verbied het. Kramer beskryf Bloemfontein as "the kakest place". Shaikh het gesê dit was sy goeie oordeel wat hom die besluit laat neem het, want so ʼn kragwoord val nie in die norm van "goeie smaak" wat oor die lug uitgedra behoort te word nie, het Die Burger destyds berig.

DJ Fresh van Metro FM het in 2019 ʼn luisteraar ʼn Zoeloewoord genoem wat min of meer “arsehole” beteken. Die SAUK het sy kontrak gekanselleer, nadat ʼn luisteraar by die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika gaan kla het.

Anton Goosen en Afrikaanse radio

Anton Goosen, wat verskeie programme op die radio aangebied het, sê in ʼn program wat vooraf opgeneem is, het iemand vir hom gevra of sy begeleier gay is. Hy het geantwoord: “Ek gee nie om of hy olifante naai nie, solank hy net goed klavier speel.” RSG het gedink dit is veels te gewaagd en die woord is uitgebliep. “Dit is amper erger, want dan vestig jy die aandag daarop”.

Oor sy liedjie “Boude” het hy baie sorge gekry. Daar was die hele tyd klagtes as dit oor die radio gespeel word. “Maar ek het agtergekom as jy woorde begin gebruik wat sekere mense nie verstaan nie, dan kom jy weg daarmee. Dan is hulle oukei”, sê hy. Hy het die woord jentoe in 1986 in “Weskusliedjie” gebruik en “die sensuurraad het dit nie agtergekom nie, want hulle het nie geweet wat dit beteken, daar in Pretoria nie”.

Toe hy vir ʼn gemeenskapsradiostasie gewerk het, het iemand gekla, omdat hy Pink Floyd se “ The Wall” gespeel het, asook Die Antwoord se Evil Boy waarin daar in Xhosa na penis verwys word.

Deesdae beweeg mense baie weg van radio en TV, sê Anton. Hulle kyk byvoorbeeld Netflix, luister en kyk na konserte en ander uitsendings aanlyn. Baie dinge het verander en verbeter.

Vloek oor die radio? Nie sommer nie, en nie in Afrikaans nie. Dit lyk nog na ʼn groot taboe. Al dink baie mense dalk dis fokkol.

Kommentaar is gesluit.

Hierdie webwerf maak gebruik van koekies.  Hier is meer inligting oor koekies.

Hierdie webblad bevat kru taal, vloekwoorde en volwasse onderwerpe.

Is jy ouer as 18?