Vloek op koerantpapier

0

Alle vloekwoorde is taboe woorde, maar nie alle taboe woorde is vloekwoorde nie. In Afrikaans het vloekwoorde die hoogste taboewaarde van alle taboe woorde, so het prof. Ilse Feinauer, taalkundige aan die Universiteit Stellenbosch, in haar meestersgraadtesis geskryf.

Vloekwoorde in gedrukte en aanlyn Afrikaanse publikasies duik wel op, veral binne konteks. Daar is tog ʼn verskil tussen ʼn resensie, rubriek, artikel en nuusberig. Hoewel lesers nie altyd die verskil verstaan nie, is daar tog ʼn verskil tussen rapportering en die weergee van iemand se mening. Net soos wat daar ʼn verskil is tussen ʼn teaterresensie en ʼn onderhoud.

Sterretjies verander

Gewoonlik sien ʼn mens *** om die woord te verdoesel, maar in 2019 het ek ʼn artikel oor vloek vir Vrye Weekblad geskryf en al die vloekwoorde is gebruik, sonder enige asterisk. Die aarde het nie tot stilstand gekom nie, en niemand het gekla nie. Lesers kan dit geniet, maar dit sou natuurlik nie in ʼn Christelike tydskrif gewerk het nie.

Prof. Lizette Rabe, hoof van die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, sê Afrikaanse teks in mediaberigte reflekteer baie meer gewone Afrikaanse gebruikstaal. Dis nie so styf en suiwer en calvinisties soos vroeër nie, en daarmee saam het natuurlik ook baie meer gewone kragwoorduitdrukkings in koerantkolomme en op nuusskerms verskyn.

Natuurlik is daar ’n lyn – net soos wat ’n mens se manier van praat afhang van waar jy is. Die kerkraadsvergadering sal (heel waarskynlik) hulle bewaar van kragwoorde, terwyl ’n groep studentedrinkebroers in ’n koshuis se vierkant nie ’n wag voor hul mond sal hê nie. Ek meen ook ons sielkundiges en psigiaters sal sê: “Mens, laat dit uitkom, moet dit nie opkrop nie, dis nie goed vir jou gesondheid nie.” Dus, kom ons sê daar is ’n mediese rede hoekom vloek goed vir liggaam en siel is.

Onlangs het Die Burger die woord bedonderd in ʼn kop gebruik; dit sou nie baie jare gelede nie ondenkbaar gewees het. “Dis algemeen dat sommige blaaie nog ’n * invoeg as hulle iemand aanhaal wat byvoorbeeld sê iemand praat k*k, of dis sommer str*nt. ’n Belangrike faktor wat in gedagte gehou moet word: Ek dink sosiale media het beslis baie bygedra dat die hoofstroommedia ook aansienlik losser geword het wat betref kragwoorde. Ek dink bv. aan ’n heerlike twiet van @MaxduPreez nou die dag: ‘Ag shame, you Trump groupies must be having a mega-kak day’,” vertel Rabe.

Suiwer jou taal!

Rabe dink lesers is nie meer so anglisisme-obsessief soos vroeër nie, en taalpriesters ook nie. Saam met die bevryding van die land het ook die bevryding van die taal, gode sy dank, gekom, en gelukkig ook ’n paar ander bevrydings.

Soos bevryding van al daardie dogmas en doktrines wat Afrikaans betref. Want Afrikaans is – ironies genoeg – van sy begin af ’n gekreoliseerde taal wat maar net tydens die Afrikaner-borstroktyd in ’n eng korset van kastige suiwerheid gedruk is. Net soos wat die konstruk van ras kastig suiwer was. Terwyl die ironie van pas is: Daar is nie ’n meer gemengde groep as die Afrikaner nie; reg van die begin af, van die eerste geslag Afrikaanders wat gebore is ná die VOC-besetting van die Kaap (voorheen so verheerlikend, maar so verkeerd, die “volksplanting“ genoem).

Hendrik Biebouw, die ou wat voor die Stellenbosse landdroshof geprotesteer het en geskreeu het “ik ben een Afrikaander!”, was immers van gemengde afkoms – soos ook, inderdaad, die stigter van Stellenbosch, Simon van der Stel. Dit het net nooit die Afrikanernasionalistiese narratief gepas om dit aan die groot klok te hang nie.

Verskuiwings in die gemeenskap

Prof. Herman Wasserman, direkteur van die Sentrum vir Mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad, sê hy dink ʼn mens moet taalgebruik in die Afrikaanse nuusmedia sien teen die agtergrond van die groot verskuiwings wat in die Afrikaanse taalgemeenskap oor die algemeen plaasgevind het sedert die demokrasie.

Afrikaans het ʼn minderheidstaal geword en sy voorheen bevoorregte status in baie amptelike sfere (universiteite, regering en dies meer) prysgegee. Daarmee saam het die koppeling van Afrikaans met die benepenheid van apartheid, die Nasionale Party, die kerk en dies meer, verslap, en het daar ook ʼn groter waardering vir die verskeie taalvariëteite van Afrikaans na vore begin kom, soos die besef dat die meerderheid sprekers van die taal nie wit is nie.

Hoewel daar in sommige kringe kommer bestaan oor wat gesien word as die verlies aan die taal se hoë funksies, het dit myns insiens ook in vele opsigte die taal bevry en ʼn meer ontspanne gebruik daarvan aangemoedig. As daar wel meer vloekwoorde in Afrikaanse media is, of ʼn veranderende houding daarteenoor, sou ek sê dit hang saam met hierdie agtergrond. Ek dink ook die Afrikaanse kultuur oor die algemeen het op dieselfde manier meer ontspanne en minder preuts geword, sê Wasserman.

Oor hierdie verandering sê Wasserman dat dit seker subjektief is, maar dat hy byvoorbeeld dink dat ʼn woord soos moerse 25 jaar gelede nog ʼn frisson van onbetaamlikheid sou gehad het: “Maar vandag is dit lyk my heeltemal aanvaarbaar in die hoofstroom. Ek onthou nog as ‘n kind die sêding dat iets ‘so naby is soos dêmmit aan ʼn vloekwoord’.”

Woorde wat met seks of geslagsorgane verband hou, lyk my nog steeds taamlik taboe (fok, piel, poes) – ek dink dis hoekom byvoorbeeld daar nou weer klaagliedere opklink oor die dokumentêr Chasing the sun waar Rassie Erasmus en ander spelers en afrigters dikwels fuck of fok sê. Woorde wat na ʼn godheid verwys, is ook om verstaanbare redes taboe (God, Jesus, Jissis, Allah), hoewel ek dink die gebruik in die Engelse vermaakmedia van God en Jesus Christ al heelwat inslag gevind het in ons kultuur en ook na Afrikaans kan oorspoel, sê hy.

Ek dink dit hang waarskynlik eerder saam met die register – ʼn koerant sal byvoorbeeld waarskynlik meer formeel skryf as die taal wat op ʼn joernaalprogram op TV gebruik word. Insgelyks sal die taalgebruik in ʼn nuusberig meer formeel wees as in ʼn onderhoud op die kunsblad. In die meer ontspanne/informele register van leefstyl- of kunsblaaie sal vloekwoorde (hetsy met ʼn * of nie) waarskynlik meer verdra word, omdat dit kan bydra tot die “kleur” van ʼn storie, sê Wasserman.

ʼn Mens moet wel ook in gedagte hou dat kinders dikwels deel is van ʼn gehoor of leserspubliek, en ek dink koerante en ander publikasies moet daarvoor respek hê. Vir my is dit egter skynheilig om byvoorbeeld vloekwoorde in films uit te blok (soos met die funksie wat DStv-gebruikers toelaat om dit te doen), maar nie ʼn oog te knip oor geweld, vrouehaat (misogeny) en dies meer wat in dieselfde film of nuusmateriaal voorkom nie. Afrikaanse gehore is dikwels baie selektief in hul moraliteit, voeg hy by.

My fok, Charlize!

Met die “My fok, Marelize”-video (kyk ons versameling video’s en meme) het Netwerk24.com byvoorbeeld die fok uitgebliep. So ook toe Charlize Theron iemand speels in Afrikaans leer vloek het.

Netwerk24.com sal soms rondspeel met woordspelings wat eintlik meer plat is as wanneer jy maar net die gewone vloekwoord sou gebruik het, soos dat Khloé Kardashian ʼn “KAK” handsak het (wat eintlik ʼn akroniem vir haar volle naam en van is). Dan kan jy maar net sowel vir Marelize en Charlize ook laat vloek …

Grappies en speletjies

Ek het vir 21 jaar vir Media24 gewerk, eers by Die Burger en later by Netwerk24.com. Die meeste joernaliste wat ek ken, huiwer nie om te vloek nie. ʼn Nuuskantoor is een van die werksplekke waar jy beslis vloekwoorde sal hoor.

Een van die pogings wat daar onder so ʼn spannetjie was, was om vloekwoorde in veral Die Burger laat in die aand, of binne konteks in berigte ingeglip te kry, verby al die subredakteurs se neuse. Dit was so half ʼn kompetisie.

So byvoorbeeld is daar ʼn projek van NASA wat POES heet: die Polar Operational Environmental Satellite (POES) Project. Iemand het toe op die projek afgekom en gedink: Kom ons skryf ʼn beriggie oor die projek, dit is tog heeltemal geregverdig, want dit is mos wetenskap. Daar is natuurlik ʼn stokkie voor gesteek.

Hofberigte

In hofberigte waar getuienis gelewer word en vloekwoorde gebruik is, word dit wel so aangehaal, maar meestal met behulp van sterretjies in die plek van veral vokale, sodat ʼn mens steeds kan aflei wat gesê is. Jare gelede is net sterretjies gebruik, en die leser moes maar self wonder wat gesê is.

Ouma Ossewania het die laaste (vloek)woord

Dit is net soos Pieter-Dirk Uys dit in ʼn onderhoud noem toe mense in 2019 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees al weer uitgestap het by sy opvoerings van Die Poggenpoels praat en Ouma Ossewania praat vuil. Evita se moeder, Ouma Ossewania, is 119 jaar oud, en haar monoloog op die verhoog verteenwoordig ’n tydperk in ons geskiedenis van herinneringe, vooroordele, rassisme, liefde en haat. En só bieg sy: “Ek vloek nooit as ek praat nie. Net as ek dink. Soos nou.”

Hieroor sê Uys: “En ja, sy gebruik taal wat nie uit die mond van ’n Christen Afrikanertannie in die publiek verwag word nie. Kru taal is deel van die Afrikaner se kultuur. Ek persoonlik, ná jare van ondervinding van sensuur en kritiek, beskou daardie kragwoorde nie as vloek nie, maar eerder as ’n soort poësie (met twee dotjies op die e!) Baie k-woorde is in die monoloog geuiter. Watter een het mense aanstoot gegee? Kommunis? Katoliek? Kak?”

Ook maar lekker skynheilig, dié mense wat oor Evita kla …

Kommentaar is gesluit.

Hierdie webwerf maak gebruik van koekies.  Hier is meer inligting oor koekies.

Hierdie webblad bevat kru taal, vloekwoorde en volwasse onderwerpe.

Is jy ouer as 18?