Vloek en Afrikaanse musiek – kiefpiele of kak styl?

0

Kyk, jy kan moontlik genoeg navorsing oor vloek in Afrikaanse musiek doen om ‘n doktorsgraad of twee langs jou kaggelkakkies uit te stal, so vandag gaan ons beslis net ‘n briekmerk op die oppervlak los. Jy weet ook hoekom jy verkies om te vloek al dan nie.

Daar is so baie faktore wat moontlik ‘n rol kan speel: jou opvoeding of gebrek daaraan; jou bekommernis oor ander se opinies oor jou; rebellie; seks of die seksuele; groepsdruk (meestal om cooler voor te kom as wat jy is); die tipe geselskap waarin jy jou bevind; vloek ter wille van vloek; en om reaksie uit te lok – om net ‘n paar te noem.  Emosies soos liefde, angs, blydskap, vrees, hartseer, afgryse, vertroue, frustrasie, simpatie en woede speel ook natuurlik ‘n moerse rol, if not the biggest. Fisiese reaksies? As jy jou tjommie se gunstelingvloekwoord wil uitvind, drop ‘n baksteen op sy toon.

Baie van die voorbeelde hier bo is veral emosiegedrewe en daarom ook temas wat jy in musiek aantref. Dit is dus vanselfsprekend dat jy vloekwoorde in musiek aantref, juis omdat dit so natuurlik in die spreektaal voorkom en mens sou skat dat dieselfde sosiale reëls min of meer sou geld. In die Afrikaanse musiekbedryf voel dit egter vir my asof vloek minder gereeld voorkom, en die rede is so eenvoudig soos dit:

Afrikaans word deur die meerderheid wit Afrikaners steeds in die eerste plek as kultuur beskou, en dan eers daarna as ‘n taal.

En jy fok nie met kultuur nie, hoor?

Kom ons kyk dan na so klompie Afrikaanse kunstenaars en musiekgroepe wat wel vloek vir hulle aandete; wat die moontlike rede hiervoor mag wees; en of dit effektief aangewend word.

Fokofpolisiekar

Ons skop sommer af met die mees voor die hand liggende groep – Fokofpolisiekar – juis omdat die band se naam een van die swaarder Afrikaanse vloekwoorde ‘n huisie en ‘n bord kos gegee het. Die naam skree rebellie. Of altans, dit het meer as ‘n dekade terug nog ‘n rebelse vlag gewapper. Dit was seker ook maar ‘n mengsel van vloek ter wille van vloek, om cool te lyk en om reaksie uit te lok. Hoekom anders sou Wynand “Fok God” op ‘n vriend van Bobby van Jaarsveld se beursie skryf? Want dis makliker om ‘n groep mense uit te lok wat reeds ‘n moerse sterk geloofsoortuiging het. En dan veral die Christelike geloof, spesifiek in Afrikaans. (Godsdiens is mos ook kultuur, so saam met die taal.)

Ironies genoeg bevind die lede van Fokof hulle nou in daardie voorstedelike middelklaslewe waarteen hulle aanvanklik gerebelleer het. Hulle is nou belastingbetalende besigheidsmanne en ouers met verantwoordelikhede. Verder is die band se naam ook al oor die jare so genormaliseer en gedesensitize dat dit op hoofstroom-TV en radiostasies rondgegooi kan word as ‘n handelsmerk, net soos ‘n blikkie Coke Zero. Laerskoolkinders kan mekaar deesdae vloek sonder om in die kak te beland: "Fokofpolisiekar, jou kartondoos!" Pappa (in sy Fokof-hempie) sal die kinders dan dalk noodgedwonge berispe met ‘n: "HEY, ek bliksem vir jou, mannetjie!," waarop die laitie moontlik sal terugkap met: "Wat? Ek het gesê KARTONdoos!"

Fokof se musiek het egter nie daai edge verloor nie, en die ouens vloek deesdae lustig voort voor ouer en soms meer konserwatiewe gehore op main stages regoor Suid-Afrika. Tannies by Innibos sal moontlik hulle gegeurde gin in die verkeerde pyp laat afgly as hulle wel met skok besef dat Fokofpolisiekar so pas "Ek werk my fokken poes af" op ‘n modified wysie van Sonja Herold se Ek verlang na jou gesing het. Dis nou dieselfde tipe fees waaroor iemand soos Juanita du Plessis liries kan raak met "Sondagaand se #LoofHominnibos was rêrig baie spesiaal vir my!"; of Steve Hofmeyr Die Stem sing soos ‘n droë koedoedrol vir ‘n rugbyveld vol droë dassiedrolle. Darem nie alles in dieselfde jaar nie, but what a time to be alive!

Daar is darem ook ‘n geldjie te maak so tussendeur die swetsery, want Fokofpolisiekar word deur Jägermeister geborg. Watter beter manier is daar nou nie vir product placement as om daai hoenderkopstroop in fans in die voorste linies se kele af te gooi, terwyl jy Dagdronk sing sodat hulle kan revs optel in die son nie? Genius!

Watter deel dink jy word die hardste saamgesing en dink jy regtig die kids in die crowd werk so hard?

Dagdronk
Kom ons raak ‘n bietjie dagdronk
Dis amper soos ‘n dagdroom
Ons raak net fokken dronk
Want ek voel ek verdien dit
Ek werk my fokken poes af
Kom ons raak ‘n bietjie dronk in die dag
En ons hou ‘n partytjie in die son

Myns insiens handhaaf Fokof ‘n goeie balans, want hulle digkuns en musikale ability ondersteun die produk moerse sterk. As die musiek en die lirieke die teëls en die grouting van ‘n nuwe vloer is, is die vloekwoorde die bonding liquid. Om daai eertydse vlakke van kontroversie weer te bereik en om te skok vir die onthalwe van skok, gaan die volgende groep wat dit poog hulleself Fokofpolisiekont moet noem en die voorsanger sal Dirkie van Tik moet heet …

Om in musiek te vloek net vir die onthalwe van vloek, sal in meeste gevalle ‘n mislukking in my boek wees, maar dit kan dikwels baie effektief aangewend word.

Jack Parow

Neem Battery 9 se song Aag Fok as voorbeeld. Die lirieke is letterlik net daardie twee woorde: "Aag fok!" Dit kan ‘n dag opsom. Dit kan ‘n maand opsom. Hey, dit kan ‘n hele fokken pandemie opsom!

Neem nou daarteenoor ‘n song van iemand soos Jack Parow wat vir jou maklik ‘n hele sesverdiepingkantoorblok  se matte kan weef, uitsluitlik uit vloekwoorde. Met sy 2009-vollengtedebuutalbum, bloot getiteld Jack Parow, hoef mens regtig nie verder te gaan as die eerste snit, Ek wens jy was myne, om uit te figure dat die man vloekwoorde sing, eet en slaap nie.  Die eerste 45 sekondes is skoon waar hy "Ek wens jy was myne vanaand" so ‘n paar keer herhaal, voor hy laat loop met sy arsenaal: "Ag nee jissis, fok man. Lassit!" Hy slaag daarin om in ‘n liedjie met ‘n lengte van drie minute en twintig sekondes vloewoorde soos sardientjies in te pak. In totaal word daar drie-en-twintig keer gevloek – agt keer in Engels en vyftien keer in Afrikaans; die totaal word opgemaak deur tien verskillende vloekwoorde:

Afrikaans Engels
jissis1 bitch1
fok1 fuck4
fokken9 motherfucker2
kak1 slut1
moederfokken1   
naaiers1   
poes1   
TOTAAL:15  8

Wanneer vloekwoorde so dig gepak word, loop dit die risiko om die impak wat dit andersins sou gehad het, te verloor. Dit laat my bietjie dink aan ‘n gomgat wat die helfte van sy skyf bloedrooi trek met een pull, baie "maak uit?" sê, te vinnig praat en angstig rondkyk asof die polisie enige tyd te voorskyn gaan kom en hom gaan toesluit vir die diefstal van scrap metal.

Jack Parow illustreer self my punt vir my, want vir een of ander rede het hy ‘n ‘skoon’ weergawe ook die lig laat sien: Jack Parow Super Seep Skoon (Vloekvry Uitgawe), kompleet met ‘n Fight Club-tipe koekie seep (nie koekieseep nie) op die cover. Daar ontbreek so baie woorde in die eerste song dat jy bykans nie kan uitmaak waaroor die fokken ding gaan nie. 

Koos Kombuis en protesmusiek

‘n Jaar voor Jack Parow se albumbekendstelling het Koos Kombuis sy elfde album, Bloedrivier, uitgereik en Die Fokol Song het baie aandag geniet. Daar word vyf-en-twintig keer gevloek, waarvan "fokkol" drie-en-twintig keer gebruik word en "fokken" twee keer, maar in Koos se geval sou ek raai dat hy mense makliker aan sy kant gaan kry, omdat hy daarin slaag om baie Suid-Afrikaners se frustrasie as gevolg van die regering se swak dienslewering te verwoord. Koos het ook die CV en geloofwaardigheid van die Voëlvry-beweging wat in sy guns tel:

Welkom op die airport, dit is die jaar 2010.
Ek neem aan julle is hier om sokkergames te sien.
Ons het nou eindelik ‘n kans om vir die wêreld iets te wys
van ons vriendelike democracy, so maak jouself maar tuis.
Fokkol petrol, fokkol diesel, fokkol TV, fokkol krag,
fokkol water in jou whisky,
fokkol jokes om voor te lag,
fokkol pille by die kliniek,
fokkol dokters as jy vra,
fokkol ouens om die vullis op jou pavement weg te dra.

Dit herinner nogal aan sy kameraad Johannes Kerkorrel se lirieke vir Energie van 1989:

Betaal jou paaiemente
Selfs al kak jy weens die rente

Terwyl ons nou rondhang by protesmusiek en die politieke kant van sake, kan ons net sowel Piet Botha se Goeienag Generaal ook insluit, aangesien die woord "fucked-up" doeltreffend aangewend word om gewelddadigheid van sy song met apartheid as tema huis toe te dryf:

Maar Whitey, jou oë op daardie dag
was blou net soos die lug.
Toe ons weer so kyk,
het ‘n AK jou fucked-up geskiet.
Goeienag, Generaal

Karen Zoid en Rokkeloos

Dis egter nie net die mans wat die system ‘n pit gedruk het nie. Die skonere geslag was ook soms lekker vuil en aspris. Karen Zoid het in 2002 tydens ‘n charity concert in Potch haar broek oopgemaak en haar koekhare vir die kamera geflash. In haar defense: die kamera was koekhaarhoogte.

Nog ‘n vrouerockgroep, Rokkeloos, se musiek is van radiostasies verwyder in 2006 as gevolg van hulle song Blougraspunkpolka wat eintlik baie mooi lirieke het:

was ek maar net buite en nie binne die verhaal
sou ek my drome wou laat aanvloei
oor die rand van die nag
met my sondes vergewe
en my fokken huur betaal

As gevolg van sensuur het hulle aspris begin raak en hulle teffer Bernina Breakdance het hulle in die kak laat beland by die BCCSA:

Een aand op ‘n kattebasaar
al die hoere van die dorp was daar
Willemiena Kateriena,
jou ouma se sussie Siena
en die res van die local bar
Ek hou van melktert
ek hou van breiwerk
ek hou van skaap braai
ek hou van hard naai

Daar was ook ‘n versteekte snit op hulle album getiteld 10 tequilas met die lirieke: "Tequila, dit maak my poesdronk."

Weer Jack Parow

Vloekwoorde kamp ook gereeld op seks, die seksuele en wellus se grasperkie. Om weer terug te kom na daardie eerste song van Jack Parow: Halfpad daardeur maak ons kennis met "ek het klaar genoeg poes op my breakfast plate". ‘n Beter woordkeuse hier sou dalk "reeds" gewees het?

En ‘n rukkie later: "Ek het gisteraand in jou bitch se bek gespuit". In die ‘skoon’ weergawe word die woord "bitch" gemute, so as iemand dit vir die eerste keer luister, kan hulle maklik die muted gedeelte verkeerdelik met "hond" vervang vanweë die gebruik van "bek". Weereens ‘n bewys dat die selfsensuur in hierdie geval heeltemal onprakties is en absoluut geen doel dien nie.

Lirieke soos "Jack Parow los al die poppies fokken wydsbene" en die feit dat Jack Parow na homself meer as eenhonderd keer op die album verwys, dui op selfverheerliking wat deur vloekwoorde ondersteun word en oorheersend in rap aangetref word. In hierdie opsig pas Jack Parow dus netjies in die rapper pigeonhole, en dis juis wat sy loopbaan so ‘n sukses maak. Mens verwag half van rappers om selfbehep te wees, anders is daar iets fout. Jack Parow moet net besluit of sy piel nou eintlik so lank soos ‘n putter of ‘n komkommer is. Ons makeer consistency.

K.O.B.U.S.

Steeds by die seksuele, het die spitsvondige Afrikaanse metalgroep K.O.B.U.S. dit reg gekry om die mees romantiese Afrikaanse sin in musiek ooit te konstrueer met die woord "tiet". Laasgenoemde is nou nie juis die taboeste woord op aarde nie, maar jy gaan wel nie maklik die woord "tiet" kan rondgooi as ‘n kompliment in die Spar terwyl jy in die ry wag nie.

MAAR … as ek single was sou ek hierdie lirieke met die grootste vertroue in ‘n stampvol auditorium, aangetrek in ‘n tuxedo met ‘n rooi roos in die hand, aan Charlize Theron deliver sonder om te aarsel of ‘n oog te knip:

Soos ‘n uurglas, jy gegiet
van jou boude tot jou tiet
Ek wil jou soen

Die liefde vir eers daar gelaat …

Woede

Die maklikste manier om ‘n vloekwoord uit iemand te kry, is om hulle goed die bliksem in te maak. Want ‘n vloekwoord is ‘n goeie plaasvervanger vir ‘n actual poesklap. So ‘n paar voorbeelde:

Battery 9 – Rugsteker
Hoekom jy my agteraf beswadder?
Jou skelmgat, twaalfgesig, misrabele adder?
Dis nou heeltemal te laat om reddingswerk te doen
Daar is niks wat sal help om ons ooit weer te versoen
Jou pateet
Verneuker
Jou klein kak
Rugsteker
Bliksemse klein moederneuker

Road Rage – Brixton Moord en Roof Orkes
Druk daai masjien tot dit tweehonderd sien
Natnaai in die volla, waar gaan jy miskien?
Laat die bande suis, laat die wiele gons
Die pad is te klein vir die twee van ons
Flash jou brights vir my en jy sal kak
Daar’s ‘n baseball bat in my kattebak

Wen! Wen! Wen! – Riku Lätti
Ek het die song spesiaal vir jou gemaak
Ek hoop jy like dit en dit laat ‘n lekker smaak
Ek sê vir jou
Ek vergewe jou
Maar fokkof nou
Fokkof nou!

Is less more?

Die keuse om te vloek of om ‘n beter woordkeuse te oorweeg berus by die kunstenaar, hoe hy hom- of haarself aan aanhangers wil voorhou en watter verwagtinge daar geskep word. Die situasie bepaal uiteraard die gedrag. Die ou Engelse gesegde "less is more" is ook dikwels van toepassing wanneer dit by vloek en vuil taal kom.

Valiant Swart is sekerlik een van die bekendste Afrikaanse sangers en hy vloek bykans nooit van die verhoog af nie. Indien hy wel vloek, is dit dun gesaai en gewoonlik iets aan die ligter kant soos "moer" of "bliksem" wat uitglip. Hy het wel ‘n spesifike annekdote wat hy graag by vertonings vertel van iemand wat hom in die verre verlede een oggend op toer wakker gemaak het vir ‘n vertoning by ‘n ouetehuis. Hy en sy band het verslaap en het groot hangovers gehad en was boonop laat vir die vertoning. Valiant herroep sy reaksie sonder om een vloekwoord te gebruik, maar jou brein laat dit vloekwoorde reën:

Gedoriewaar, jong man, begaan jy nie nou dalk ‘n reuse flater nie?
Wat de josie soek jy hierdie tyd van die oggend in my kamer?
Ek sal jou mos weliswaar erg leed aandoen!

Lees ook:

Kommentaar is gesluit.

Hierdie webwerf maak gebruik van koekies.  Hier is meer inligting oor koekies.

Hierdie webblad bevat kru taal, vloekwoorde en volwasse onderwerpe.

Is jy ouer as 18?