’n Regstreekse gevloekery

0

Wanneer woorde te “sterk” is vir TV

Dit het al met almal van ons gebeur: Jy vra dat ‘n manuskrip asseblief na ‘n "poefleser", in plaas van ‘n "proefleser" gestuur moet word. Of jy wil vir jou vriendin sê dat haar pa haar roep, maar wat by jou mond uitkom is: Jou pa poep jou! #instabloos #instaskaam Wanneer sulke versprekings in regstreekse TV-uitsendings voorkom, is daar niks aan te doen nie, en jy kan maar weet dat sulke fluiters die volgende dag wyd en syd op sosiale media versprei sal word. #instablooper #instafamous

Regstreekse TV is een ding, maar vooraf opgeneemde programme is ʼn perd van ʼn ander kleur.

Dit is die uitsaaier se plig om kykers te waarsku teen blootstelling aan materiaal wat moontlik aanstoot kan gee, of wat die jonger geslag onbehoorlik kan beïnvloed. Maar wie besluit oor hierdie aanstootlikheid? En hoe meet ’n mens iets so abstrak en konteksgebonde soos “onbehoorlikheid”? Hoe word die ouderdomsbeperkings op TV-programme en films in Suid-Afrika gedoen? En hoe vergelyk dit met ander, internasionale klassifikasiesisteme? Kan dit anders gedoen word?

Hoe meer dae, hoe meer vrae …

Die Film- en Publikasieraad (FPR)

Ingevolge die Wet op Films en Publikasies ((Wet no. 65 van 1996; die Publikasiewet) berus die verantwoordelikheid vir die toekenning van ouderdomsbeperkings en ander klassifikasies van publikasies by die FPR. 

Volgens die FPR se webtuiste kan die Suid-Afrikaanse publiek jaarliks kommentaar lewer op die klassifikasieriglyne wat hulle daarstel, en derhalwe voer hulle aan dat die riglyne die openbare opinie weerspieël. Benewens die publiek se kommentaar neem die FPR ook internasionale navorsing en riglyne in ag om te verseker dat die klassifikasies in voeling met die res van die wêreld is.

In praktyk word die klassifikasie deur ʼn klassifiseringspaneel hanteer. So byvoorbeeld is ’n groep van 38 klassifiseerders in Oktober 2017 aangestel om die klassifikasie van films en publikasies vir die volgende 4 jaar namens die FPR te hanteer. Hierdie groep is demografies (met betrekking tot ras, ouderdom en biologiese geslag) redelik verteenwoordigend van die volwasse, Suid-Afrikaanse publiek. Daar word wel nie aangedui hoe die taalverspreiding in hierdie groep lyk nie, en aangesien taalgebruik een van die klassifikasie-elemente is, sou ʼn mens verwag dat hierdie faktor ook ’n belangrike oorweging moet wees by die aanstel van klassifiseerders.

Alhoewel die FPR se slagspreuk “We inform. You choose” is (en waarmee hulle dus sê dat hulle in wese ’n waarskuwings- eerder as sensuurfunksie vervul), is daar ’n dun lyn tussen sensuur en klassifikasie. Dié onderskeid geniet juis tans baie aandag in die media, aangesien die voorgestelde wysiging op die Publikasiewet onder andere sal inhou dat álle digitale inhoudskeppers, selfs enigiemand wat ’n TikTok-video wil plaas, eers hulle materiaal vir goedkeuring aan die FPR sal moet voorlê. (Lees ’n volledige beskrywing hier.)

Die Publikasiewet en vloek

Vloek is ’n besonder konteksgebonde verskynsel wat deur ’n legio veranderlikes beïnvloed word, waaronder ouderdom, biologiese geslag, kultuur, sosiale status, geografiese gebied, ensovoorts. Riglyne oor vloekwoorde in Suid-Afrika sal daarom waarskynlik anders lyk as in Europa, en ʼn mens sou dus kon verwag dat die riglyne vir hierdie komplekse klassifikasie-element baie gedetailleerd sal wees.

Die huidige klassifikasiesisteem en riglyne vir taalgebruik in enige van Suid-Afrika se amptelike tale is egter nogal vaag en oop vir interpretasie:

  • The use of strong language must be considered in the allocation of an appropriate age restriction; and
  • Regardless of the level of age restriction, the public must be alerted to the occurrence of strong language of a mild, moderate, strong or very strong impact.

Op die FPR se amptelike webtuiste word daar aangedui dat die letter “L” (of in Afrikaans dan “T” vir “Taal”) gebruik word om die aanwesigheid van sterk taalgebruik, soos kru vloekwoorde, in ’n publikasie aan te toon. Daar is vier kategorieë van kru taalgebruik:

  • Gematigde aanstootlikheid
  • Redelike aanstootlikheid
  • Sterk aanstootlikheid
  • Baie sterk aanstootlikheid

Dienooreenkomstig is die aanstootlikheid van die taalgebruik die beslissende faktor vir die klassifikasie van taalgebruik. Twee ander aspekte, te wete voorkomsfrekwensie en die intensie om ’n ander persoon te beledig of te skend, word ook in berekening gebring wanneer daar besluit word watter ouderdomsbeperking aan ’n publikasie toegeken moet word. Vir elke ouderdomsbeperking word daar duidelik gestel watter kategorie (gematigde aanstootlikheid, redelike aanstootlikheid, sterk aanstootlikheid of baie sterk aanstootlikheid) van taboe taalgebruik in ’n publikasie aanwesig mag wees (en tot watter mate). Tog word daar nie duidelik gestel watter woorde in watter kategorieë hoort nie, en die tekort aan gestandaardiseerde riglyne mag hierdie klassifikasie aan die subjektiwiteit van individuele klassifiseerders onderwerp – wat André P Brink in die voorwoord van A South African Censor’s Tale (deur Kobus van Rooyen) beskryf het as “the ultimately subjective basis of censorship”.

Die FPR sluit nie godslasterlike taalgebruik onder “kru taalgebruik” in nie. Daar is tot redelik onlangs nog deur middel van “G” of “B” aangedui dat materiaal godslastering bevat. Tans toon “V” vir “Vooroordeel (of “P” vir “Prejudice”) enige taalgebruik of handelinge aan wat diskriminerend teenoor ’n spesifieke groep mense (soos ’n godsdiensgroep of ’n kultuurgroep) kan wees. Hier is die riglyne in verband met die taalgebruik dus redelik duidelik. Daar is egter steeds geen aanduiding van watter woorde gemerk moet word as “L” nie. Wanneer daar in ag geneem word dat kru taal die element is wat, naas geweld, die gereeldste aangedui word in films, is dit kommerwekkend dat daar geen riglyne is vir konsekwente klassifikasie nie.

 

Afrikaanse film- en televisiemakers se hantering van kru taal

In die podsendingreeks Wat de vloekwoord?! gesels Gerhard van Huyssteen in een episode met die bekende filmmaker Leon van Nierop oor kru taal in die Afrikaanse filmwese. Van Nierop noem dat daar ’n taamlike verskuiwing in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf plaasgevind het in verband met die hantering van vloek en ander soortgelyke verskynsels. Die konserwatiewe kultuur wat sinoniem is met die opkoms van nasionalisme en die gepaardgaande publikasiesensuur het plek gemaak vir meer taalvryheid (en dus word meer aanstootlike taalverskynsels toegelaat in beeld- en radiomateriaal). Tog noem Van Nierop ook dat daar steeds rekening gehou moet word met die teikenmark se houdings teenoor kru taal in films en op die televisie.

Jaco Loubser, hoof- uitvoerende beampte van en vervaardiger by Homebrew Films, bevestig ook hierdie verantwoordelikheid wat gesamentlik by die vervaardiger en die uitsender (byvoorbeeld kykNET) berus. Hulle vorm saam ʼn span wat moet besluit wat gepas is in watter program op watter tyd van die dag. Loubser beklemtoon oor en oor dat dit gaan oor gemotiveerde taalgebruik, gedrag, optrede en temas: “Solank as wat dit gemotiveer is in die storielyn en by die karakter pas, sal kykers nie te veel kla nie.” Daar bestaan egter nie ʼn lys van woorde wat nie voor of ná spesifieke tye gebruik mag word nie: Elke geval word op eie meriete hanteer.

Alhoewel daar meer verdraagsaamheid teenoor vloek op die TV is, kom daar steeds bitter min vloekwoorde in programme voor wat vir die hele gesin bedoel is. Daar is al klagtes gelewer oor die sepie Getroud met rugby se tydsgleuf (18:00) as gevolg van “vloekery” wat “oral in die teks inglip”. Dit is egter moeilik om vloekwoorde en kru taal heeltemal uit te sluit en steeds materiaal daar te stel wat ’n geloofwaardige uitbeelding van die talige werklikheid is.

Ook in programme waar die verwagting mag wees dat daar meer kru taal sal voorkom, is dit nie die reël nie. Loubser beaam dat selfs realiteitsreekse, soos Kokkedoor, uiteraard nie die “volle realiteit” kan weergee nie. As ʼn hele paar uur se verfilming gereduseer word tot ʼn enkele episode van veertig of vyftig minute, is daar nie regtig veel tyd om op vloekwoorde te fokus nie. En waar dit voorkom, word dit gewoon uitgebliep.

Selfs die komediant Schalk Bezuidenhout, wat bekend is vir sy liefde vir die woord fok, vloek nie juis op sy satiriese nuusprogram Die Ware Naarheid nie. In die jongste episode (met ’n ouderdomsbeperking van 13L) kom daar net drie vloekuitinge voor: kak, donder, en flippen. In kontras met Bezuidenhout se meer versigtige benadering is daar volop taboewoorde in Casper de Vries se program Cas oppie kassie. De Vries se taalgebruik lok heelwat negatiewe reaksie uit, en die implikasie hiervan is dat daar steeds heelparty Afrikaanssprekendes is wat hierdie tipe taalgebruik ten strengste veroordeel.

In gesels- of joernaalprogramme, soos Kwêla of Bravo!, rus die verantwoordelikheid dikwels  by die aanbieder om ʼn vloekende gas op vriendelike wyse te bestuur, sodat daar ten minste genoeg beeldmateriaal is om uitgesaai te kan word. Loubser sê dat die regisseur ook soms wel kan ingryp om te sorg dat die taalgebruik by die aard van die betrokke program pas.

Verenigde Koninkryk

Ofcom, die liggaam wat in die Verenigde Koninkryk verantwoordelik is vir die regulering van taalgebruik op TV en radio, doen elke vyf jaar spesifiek marknavorsing wat gerig is op die publiek se houdings teenoor en opinies van sterk taalgebruik op TV en oor die radio. Hierdie gereelde bywerking van bestaande navorsing is noodsaaklik vir taboewoorde, aangesien taalontwikkeling voortdurend plaasvind. Ofcom se navorsing is ’n toonbeeld van die belang van marknavorsing vir die regulering van taalgebruik vir beeld- en radiomateriaal, want hulle werkswyse maak dit moontlik om verskillende probleme wat vloeknavorsers kan ervaar, op te los. (Vir ’n bespreking van probleme wat navorsers in gedagte moet hou by die interpretasie van resultate van meningspeilings, en veral aanlyn meningspeilings oor taboe taal, lees die blog Vloek Afrikaanssprekendes regtig? Betroubaarheid van ’n eerste grootskaalse meningspeiling se resultate.)

Ofcom gebruik aanlyn meningspeilings (“polls”) om respondente oor die hele land te kan bereik. Die jongste navorsing van Ofcom (in 2016) betrek ’n steekproef van 248 respondente wat, anders as in hulle vorige navorsing, spesifiek ook respondente uit minderheidsgroepe insluit. Daar word ook data ingesamel deur middel van vraelyste (“surveys”) en onderhoude met respondente. Ofcom se respondente beklemtoon die belang van konteks by die evaluering van potensieel aanstootlike woorde. Die belangrikste kontekstuele faktore, soos bevind deur Ofcom, is:

  • Uitsaaityd
  • Frekwensie of herhaling van sterk taalgebruik
  • Verwagting van program, genre en uitsaaier
  • Verwagting van regstreekse uitsendings of opnames
  • Die rol van waarskuwings, blieps, en verskonings
  • Die toon en intensie van die betrokke program

Ofcom kontekstualiseer dienooreenkomstig die 150 vloekwoorde en kru taal wat hulle vir beoordeling deur die respondente aanbied, deur middel van werklike beeld- en radiomateriaal wat die respondente moet evalueer.

Ofcom se regulasies word dus gesteun deur empiriese navorsing, en dien as ’n voorbeeld vir Suid-Afrikaanse regulerende liggame wat nog nie die riglyne vir die klassifikasie van kru taalgebruik wetenskaplik begrond het nie. Alhoewel die FPR reeds die publiek se kommentaar in ag neem, moet ’n deegliker wetenskaplike inslag oorweeg word om subjektiewe klassifikasies te voorkom. Aangesien die wetgewing wel reeds vereis dat die publiek gewaarsku word indien daar sodanige taalgebruik in ’n publikasie voorkom, is empiries bewese graderings van taboewoorde se aanstootlikheid ’n beginpunt om ’n meer volledige klassifikasiegids daar te stel.

Die Afrikaanse Vloekmeter

In ʼn multidissiplinêre navorsingsprojek wat Afrikaanse kru taal navors, word tans ’n sogenaamde Afrikaanse Vloekmeter ontwikkel om taboewoorde se aanstootlikheid (en taboewaardes) te bepaal en met mekaar te vergelyk. Omdat vloek só ’n komplekse verskynsel is, is daar uiteraard twee aspekte wat veral belangrik is wanneer dit nagevors word.

Eerstens wil die navorsers by uitstek soveel as moontlik respondente regoor die land bereik, aangesien vloek in elk van Afrikaans se veelvuldige variëteite anders kan lyk. Tweedens wil die navorsers ook weet in watter demografiese groepe die respondente val, sodat daar vergelykenderwys met die data omgegaan kan word. In die lig van Ofcom se navorsing, is dit verder ook van kardinale belang dat die navorsing repliseerbaar is, sodat gereelde bywerking daarvan moontlik is.

Aangesien hierdie navorsingsprojek hoofsaaklik aanlyn op vloek.co.za bedryf word, bied dit ’n gulde geleentheid om respondente van oor die hele land en wêreld te werf. Alhoewel die hele Afrikaanssprekende gemeenskap steeds nie so bereik kan word nie, is dit tog ’n stap in die regte rigting.

Ouderdomsbeperkings

Daar is gemengde gevoelens oor ouderdomsbeperkings. Jy kan die vyftienjarige tiener met streng ouers wees wat dikbek is omdat jy nie die 16(LSN)-reeks kan volg wat jou vriende kyk nie, of jy kan die vervaardiger wees wat voel die aanstootlike inhoud is juis waardevol vir ’n jonger teikenmark, of jy kan die ouer wees wat jou kind wil beskerm teen aanstootlike materiaal. Wie jy ook al is, dit is waarskynlik makliker om die ouderdomsbeperkings te respekteer wanneer daar empiriese navorsing is waarop dit gebaseer is.

Hierdie wetenskaplike gronde moet enersyds die openbare opinie in ag neem (aangesien dit die publiek is wat moet baat by die ouderdomsbeperkings), en andersyds moet dit gereeld bygewerk kan word (sodat die kategorisering van taboewoorde in voeling bly met die taallandskap op enige gegewe moment). Alhoewel die aanlyn meningspeilings en die Afrikaanse Vloekmeter op vloek.co.za nie ’n perfekte beeld van Afrikaanssprekendes se houdings teenoor taboewoorde kan skets nie, kan hierdie empiriese data die grondslag vorm van ’n volledige klassifikasiegids vir Afrikaanse taboewoorde.

Kommentaar is gesluit.

Hierdie webwerf maak gebruik van koekies.  Hier is meer inligting oor koekies.

Hierdie webblad bevat kru taal, vloekwoorde en volwasse onderwerpe.

Is jy ouer as 18?