- Maroela Media se meningspeiling onder hulle lesers is ’n eerste van dié omvang in Afrikaans; 3 423 mense het deelgeneem.
- 94% van die deelnemers sê dat hulle wél vloek, al is dit meestal per ongeluk (43%). Anders gesien, slegs 6% van die mense sê dat hulle glad nie vloek nie.
- Die resultate is statisties hoogs betroubaar, aangesien so baie gebruikers aan die meningspeiling deelgeneem het.
- ’n Mens kan egter nie veralgemenings oor alle Afrikaanssprekendes uit hierdie data maak nie – slegs oor Maroela Media se gebruikers.
- ’n Mens moet altyd versigtig wees om sommer te aanvaar wat mense oor hulle eie taalgedrag sê/beweer.
- Ons moet ook veral versigtig wees om response op ’n stelling soos Ek vloek nooit nie voor die voet te aanvaar, aangesien daar nog nie klarigheid is oor die verband tussen vloekgedrag en eerlikheid nie.
Gedurende die week van 18 tot 25 November 2019 het Maroela Media ’n meningspeiling (poll) op hulle webblad gehad, met die eenvoudige vraag: Gebruik jy vloekwoorde? Hierdie meningspeiling het gevolg op vele reaksies in die media en op sosiale media oor die Virtuele Instituut vir Afrikaans se Vloek met flair (en voorbehoud)-simposium wat op 15 November 2019 in Pretoria plaasgevind het.
Ons kan die uitslag van die meningspeiling op ’n skaal voorstel soos in die grafiek in figuur 1: vanaf mense wat sê hulle vloek wél aan die onderkant, tot mense wat sê hulle vloek glad nie aan die bokant. Die vraag in hierdie blog is: Hoe moet ons hierdie resultate interpreteer?
In die eerste deel fokus ek op ’n aantal slaggate in meningspeilings; in die tweede deel kyk ek in meer besonderhede na die data.
Slaggate in meningspeilings
Meningspeilings soos dié is ’n gewilde manier wat webwerwe gebruik om hulle lesers by nuuswaardige kwessies te betrek, of om lesers se opinies in te win. Wanneer die resultate van sulke meningspeilings egter gerapporteer word, moet ’n mens uiters versigtig wees – veral as jy enige veralgemenings of aansprake op geldigheid (wetenskaplikheid) wil maak. Waarom? Hier is ’n aantal slaggate:
Dekkingsfoute (coverage errors)
Een van die belangrikste aspekte in ’n wetenskaplike meningspeiling, is dat die steekproef verteenwoordigend van die groter populasie moet wees. Deur te sorg dat jou steekproeftrekking ewekansig (random) is, vergroot jy die kans dat jou resultate betroubaar sal wees, sodat jy veralgemenings oor die hele populasie kan maak.
By meningspeilings op nuuswebwerwe ontbreek hierdie aspek van ewekansigheid, aangesien die steekproef geneem word uit ’n populasie wat sélf gekies het om deel van daardie spesifieke populasie te wees. Dr Jason Marshall, wat blog as The Math Dude, verduidelik dit so in een van sy blogs (met my beklemtoning in vetdruk):
The most important factor in creating an accurate poll is to come up with a sample that represents the diversity of the entire population. It must be chosen carefully so as not to overrepresent any one group. ... [P]olls taken at news websites, for example, are decidedly unscientific since the population taking the poll is self-selected and is therefore completely biased. In other words, only people who visit that website (and who probably have certain common beliefs) will take the poll—so it cannot be a fair representation of the entire population. Any such self-selected unscientific poll (which many news websites are all too eager to post and report on in an effort to raise viewer involvement) is essentially meaningless—the results are simply too biased to give valuable information about the entire population.
Jason Marshall Tweet
Overgesetsynde, lesers van Maroela Media het sélf gekies om op Maroela Media se webwerf te wees en is daarom slegs verteenwoordigend van daardie bepaalde demografie. Dieselfde geld vir Netwerk24, Son, Vrye Weekblad, of watter webwerf dan ook: ’n Meningspeiling op so ’n webwerf kan slegs geldig wees vir daardie spesifieke populasie. Spesifiek ook met betrekking tot elektroniese, aanlyn vraelyste moet ’n mens in gedagte hou dat die medium reeds ’n bepaalde segment uit die hele populasie selekteer – d.i. daardie deel van die populasie wat vermoënd genoeg is om toegang tot tegnologie en internetverbindings te hê.
Dit maak nie saak hoeveel deelnemers daar aan ’n meningspeiling op ’n nuuswebwerf was nie, jy kan nooit sê dit is geldig vir alle Afrikaanssprekendes nie.1Om die argument verder te illustreer: As jy tydens ’n verkiesing op Maroela Media se webblad sou vra vir wie die mense gaan stem, sal jy ’n heeltemal ander uitslag vir die verkiesing voorspel as wat sou gebeur as jy dieselfde peiling op byvoorbeeld 702 se webwerf sou hou. Maar selfs hulle meningspeiling sou nie betroubaar wees nie, want hulle luisteraars en lesers verteenwoordig slegs ’n spesifieke deel van die algemene populasie wat uiteindelik by die stembus gaan opdaag. Jy moet daarom die resultate rapporteer met melding van die spesifieke groep waarvoor dit sou geld.2In die statistiek word ’n duidelike onderskeid tussen ’n steekproefstatistiek (sample statistic) en ’n populasieparameter (population parameter) getref. Kyk hier onder vir ’n algemene beskrywing van die Maroela Media-publiek.
Foutgrens (margin of error) in steekproefneming
Wanneer ’n mens die resultate van meningspeilings soos hierdie deel, moet jy altyd sê wat die foutgrens binne jou vertrouenspeil (confidence level) is. Die foutgrens in hierdie datastel is ±2%, soos bereken met behulp van Custom Insight se Survey Random Sample Calculator. Dit word in die grafiek aangedui met sulke klein rugbypaaltjies.
In gewone taal beteken dit maar net dat ons in die toekoms met presies dieselfde vraag en opsies dalk mag bevind dat tussen 51% (= 49% + 2%) en 47% (= 49% – 2%) van die Maroela Media-lesers weer een van die twee "Nee"-opsies sal kies. Kyk hier onder vir ’n meer gedetailleerde bespreking.
Sydigheid as gevolg van niedeelname (participation bias)
’n Persoon wat die moeite doen om aan ’n meningspeiling deel te neem, is nie noodwendig die "gewone mens op straat" nie. Die uitslae van enige meningspeiling word skeef getrek deurdat verreweg die oorgrote meerderheid mense verkies om nie aan meningspeilings deel te neem nie (om watter redes ook dan).
In hierdie geval is die bladsygedeelte waar die meningspeiling verskyn het, 502 966 keer vertoon, maar slegs 3 423 keer het lesers gekies om deel te neem. Die deelnamekoers (conversion rate) is dus 0,68%. Volgens Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, is die gemiddelde deelnamekoers aan hulle meningspeiling ~0,75%.
Sydigheid in antwoorde (response bias)
Een van die grootste probleme in enige meningspeiling of vraelys is dat respondente se antwoorde nie 100% vertrou kan word nie. Dit is veral ’n wesenlike probleem in navorsing oor onderwerpe waaraan mense maklik moreel-etiese waardes kan koppel, soos byvoorbeeld navorsing oor vloek.
Daar is talle redes hiervoor, waaronder mense se onbewuste geneigdheid om:
- hulle antwoorde aan te pas om ’n beeld voor te hou van wat hulle dink die vraesteller of die gemeenskap van hulle verwag (social desirability bias);
- met alles saam te stem in ’n vraelys (dus om "ja" te antwoord op positiewe én negatiewe vrae) (acquiescence bias);
- óf altyd ekstreme kante, óf altyd die middeweg op ’n skaal te kies.
Spesifiek met betrekking tot taalnavorsing, en meer spesifiek ook navorsing oor vloek, is daar twee addisionele aspekte wat in gedagte gehou moet word:
Selfrapportering (self-reporting)
Weens ’n klomp faktore – waarvan geheue die belangrikste is – is dit vir mense eintlik onmoontlik om sommige tipes vrae oor hulle taalgebruik te beantwoord. Dink maar wat jy sou antwoord op vrae soos die volgende:
- "Wat is die eerste vloekwoord wat jy ooit gebruik het?" Tensy jou ouers baie noukeurig aantekeninge oor jou taalgebruik as peuter gehou het, sal jy waarskynlik nie die vraag kan beantwoord nie.
- "Ken jy die woord droltonnel?" As jy "nee" antwoord, kan jy dalk net nie onthou dat jy eendag toe jy sestien jaar oud was wel die woord gehoor het nie. Of as jy "ja" antwoord, is dit eintlik maar net omdat jy weet wat ’n drol en wat ’n tonnel is, en daaruit kan jy aflei dat ’n droltonnel moontlik na ’n anus verwys.
- "Watter vloekwoord gebruik jy die meeste?" As jy slegs een vloekwoord gebruik, is die vraag dalk makliker om te beantwoord, maar as jou vloekwoordeskat ruim en kreatief is, is dit eintlik moeilik om self objektief te bepaal watter woord jy die meeste gebruik.
Dit beteken egter nie dat ’n mens nie sulke vrae aan gebruikers kan vra in navorsing nie – ’n mens moet wel net versigtig wees hoe jy dit interpreteer, en/of sorg dat daar ander meganismes in plek is om dié sydigheid teë te werk.3Dewaele (2016:17) som sy gevolgtrekking soos volg op (met gedeeltes in vetdruk deur my aangebring): "… self-reported behaviour may give us a glimpse into participants’ views about their habitual behaviour, especially because it is a relatively rare event for most participants (the use of actual recordings would therefore be much more onerous) but this may include some margin of error linked to social bias. Some may have under-reported swearing despite the fact that in an anonymous questionnaire nobody had to worry about being identified. This limitation is largely compensated by the diversity of the sample in terms of age, nationality and linguistic and cultural background. Secondly, despite the large size of our sample, we cannot claim that it is representative of the general population, with its high proportion of highly educated, female participants. The conclusions need therefor to be interpreted with caution."
Eerlikheid in vloeknavorsing
In 2017/8 is in die pers (kyk byvoorbeeld hier) veel gewag daarvan gemaak dat mense wat vloek eerliker sou wees as mense wat nie vloek nie. Die onderliggende kwessie aan dié bevinding is egter meer kompleks as wat in die media daaroor berig is.
Dit gaan in die sielkundenavorsing eintlik daaroor of ’n mens met sogenaamde liegskale (lie-scales) betroubaar kan vasstel of iemand eerlik of nie eerlik is nie, asook wat die verbande tussen eerlikheid en sosiaal aanvaarbare (of gesogte) gedrag is. Een van die moontlik merkers wat onder bespreking is, is of mense se reaksie op die stelling "I never swear" (dus soortgelyk aan die vyfde opsie, "Nee, ek vloek nooit nie", in Maroela Media se meningspeiling) as ’n betroubare merker van eerlikheid geag kan word.
Die debat hieroor is nog lank nie verby nie, want die onderskeie navorsers publiseer nog gereeld reaksies op mekaar se navorsing (en reaksies op reaksies).4Vergelyk Feldman et al. (2017), gevolg deur De Vries et al. (2018), gevolg deur Feldman (2018). Die punt is egter dat ’n mens bewus moet wees daarvan dat die kwessie van eerlikheid in meningspeilings ’n brandpunt in vloeknavorsing is en dat daar eintlik nog nie klinkklare gevolgtrekkings hieroor gemaak kan word nie. Vir tyd en wyl moet ons dus maar gewoon stadig oor die klippers voor ons gevolgtrekkings maak oor wat vloekgedrag oor ander aspekte (soos eerlikheid) van mense sê.
Sydigheid as gevolg van die bewoording van die meningspeiling
Meningspeilings (polls) is gewoonlik baie korter as vraelyste (surveys), en daar is dus nie ruimte om omvattend toeligting by ’n vraag te gee nie (soos byvoorbeeld wat ’n respondent onder die konsep "vloekwoord" moet verstaan). Dit is dus ’n enorme uitdaging vir die navorser om die bewoording van die vraag en die opsies / moontlike antwoorde baie noukeurig te kies.Daar is byvoorbeeld ’n wesenlike verskil tussen "Gebruik jy vloekwoorde?" (met die opsies "Ja" en "Nee" aan die ekstreme eindpunte van die skaal) en "Hoe gereeld vloek jy?" (met die opsies "Baie gereeld" en "Nooit" as die eindpunte van die skaal.Dit is ook noodsaaklik dat die geldigheid/akkuraatheid (Toets jy regtig dit wat jy wil toets?) en betroubaarheid/konsekwentheid (Kan die resultate herhaal word?) van die meningspeiling vooraf getoets word, byvoorbeeld deur die meningspeiling deur ’n groep van tien of vyftien mense te laat invul en hulle kommentaar dan in die meningspeiling se bewoording te verreken (Bolarinwa, 2015). As die meningspeiling met ander meningspeilings vergelyk gaan word, is dit baie belangrik dat die bewoording van die verskillende meningspeilings met mekaar belyn moet wees.[/mfn] Myns insiens is dit juis hierdie aspek wat die problematiesste is in die Maroela Media-meningspeiling.
Kom ons kyk na die vraag en die opsies waaruit gebruikers kon kies.
- Vraag: Die vraag "Gebruik jy vloekwoorde?" is op sig ’n goeie en maklike vraag, maar is tog oop vir meerdere interpretasies. Sluit dit praat en skryf in? Wat daarvan as ek in my kop soms vloekwoorde gebruik, maar dit nie hardop sê nie? Wat daarvan as ek slegs vloek wanneer ek alleen is? En wat word bedoel met "vloekwoorde"?
’n Ander (beter?) vraag sou dalk wees: "Hoe gereeld sê of skryf jy vloekwoorde wat ander mense kan hoor of lees? (Dit sluit enige vloekwoord in: van flippen en dêmmit, tot fokken en bliksem.)" - Opsies: Dit is veral die opsies van die Maroela Media-meningspeiling wat problematies is. Vergelyk die boonste gedeelte (a) van die visuele voorstelling in figuur 2, waar die wit sirkel met die swart rand die vloekwoordeskat voorstel. Die bewoording in swart letters verteenwoordig die keuse wat in die meningspeiling was; dié in rooi ander geïmpliseerde of moontlike opsies.
- Vraag: Die vraag "Gebruik jy vloekwoorde?" is op sig ’n goeie en maklike vraag, maar is tog oop vir meerdere interpretasies. Sluit dit praat en skryf in? Wat daarvan as ek in my kop soms vloekwoorde gebruik, maar dit nie hardop sê nie? Wat daarvan as ek slegs vloek wanneer ek alleen is? En wat word bedoel met "vloekwoorde"?

-
- Die groen sirkel stel primêr die opsie "Ja, vloekwoorde is deel van my woordeskat" voor; die persoon gebruik waarskynlik die hele vloekwoordeskat. Die opsie "Nee, daar glip net soms ʼn vloekwoord uit" is in wese misleidend, want dit kan net so goed formuleer word as "Ja, net per ongeluk". Dié persoon gebruik dus óók die hele vloekwoordeskat, al is dit net per ongeluk, baie selde, slegs by geleentheid, ensovoorts. Hulle is dus ook deel van die groen sirkel, want hulle kan ook in beginsel die hele vloekwoordeskat gebruik.
- Die pers sirkel is vir die opsie "Ja, maar nie godslasterlike woorde nie". Hierdie respondent gebruik dus die hele vloekwoordeskat, behalwe ‘n spesifieke deel. Iemand anders sou ook kon antwoord: "Ja, maar nie beledigende woorde nie," of so iets. ‘n Gespesifiseerde deel van die woordeskat word dus uitgesluit.
- Die rooi sirkel is die teenpool hiervan: Dit sou mense wees wat sê hulle vloek nie, maar gebruik wél godslasterlike woorde (of watter deel van die vloekwoordeskat dan ook).
- Die oranje sirkel stel mense voor wat sê hulle vloek nie ("Nee, ek vloek nooit nie"). Waarom is daar dan wel oorvleueling met die vloekwoordeskat? Wel, aangesien daar verskille kan wees oor wat mense as vloekwoorde sien, is dit moontlik dat iemand dink s/hy vloek nie, maar wat dan tog (onwetend) ‘n deeltjie van die vloekwoordeskat gebruik. Byvoorbeeld, een iemand sou kon dink dat flippen ‘n vloekwoord is, terwyl iemand anders sou meen dat dit nie ‘n vloekwoord is nie (en dus hierdie opsie kies).
- Die blou boog dui op mense wat die hele vloekwoordeskat gebruik, maar nie daarvan hou as ‘n bepaalde deel van die populasie ook vloek nie ("Ja, maar ek hou nie daarvan as my kinders vloek nie"). Dieselfde tipe uitsondering sou iemand kon wees wat vloek, maar nie by die werk nie, nie voor sy/haar ouers nie, ensovoorts. Dié respondent het dan nie werklik ‘n opsie om te kies nie en word forseer om ‘n opsie te kies wat nie noodwendig haar/sy gedrag weerspieël nie. Dit word aangedui met die geel boog. Die boë is dus nie uitsonderings op die woordeskat nie, maar eerder uitsondering op wie vloek, of wanneer daar gevloek word.
- So gesien, het die respondente van Maroela Media se meningspeiling dus eintlik slegs een "nee"-opsie (die oranje sirkel) en vier "ja"-opsies (die groen en pers sirkel en blou boog) gehad. Die "ja"-opsies het mekaar ook nie onderling uitgesluit nie en betrek boonop verskillende aspekte van vloek.
- Idealiter wil ’n mens in ’n meningspeiling altyd opsies hê wat onderling uitsluitend is: "ja" beteken "ja" en "nee" beteken nee. ’n Respondent moenie voel dat s/hy eintlik twee of drie opsies wil kies nie.
Dit is ook dikwels goeie praktyk om vir respondente opsies soos "ander", of "onseker", of "ek wil liefs nie antwoord nie" te bied. Op dié manier verseker ’n mens dat ’n respondent ten minste ’n opsie uitoefen, in plaas daarvan om net gewoon tou op te gooi. - In figuur 3 word moontlike opsies vir die alternatiewe vraag wat ek hier bo geformuleer het, uitgebeeld: baie gereeld > gereeld > soms > selde > baie selde. Let op die klein bietjie oorvleueling tussen byvoorbeeld baie gereeld en gereeld, want iemand sou dalk kon twyfel wanneer is baie gereeld nou eintlik baie gereeld. Dit is egter nie ongewoon om sulke kategorieë met effense oorvleueling te hê in gevalle waar iemand oor sy/haar eie gedrag of houding moet rapporteer nie.
‘n Mens sou ook vir gebruikers ‘n negepuntskaal kon gee met slegs die uiterste punte gemerk as altyd en nooit; hulle kan dan self aandui waar hulle binne hierdie grense val.5Die kwessie van 5-, 7- of 9-puntskale is debatteerbaar, net soos die kwessie oor hoe om sulke Likertskale (hetsy as kategoriale of as ordinale data) te interpreteer. ‘n Skaal soos dié moet dus ongetwyfeld aan ‘n toetsgroep gestuur word om die geldigheid en betroubaarheid daarvan te toets. Kyk ook Vagia (2006) vir verskillende alternatiewe.

Wat kan ons dan wél aflei uit hierdie meningspeiling?
Al hierdie slaggate en tekortkominge in ag genome, kan ’n mens wel die data van Maroela Media vrugbaar gebruik. Hier volg ’n paar interpretasies.
’n Eerste vir Afrikaans
Gegewe dat bykans 3 500 mense aan die meningspeiling deelgeneem het, kan dit beskou word as die eerste, grootskaalse, aanlyn meningspeiling oor vloek wat onder Afrikaanssprekendes gedoen is. Met so ’n groot steekproef beland ’n mens in die verleiding om veralgemenings te wil maak oor die ganske Afrikaanse populasie, maar soos ek hier bo aangetoon het: Ons kan eintlik net iets sê oor Maroela Media se leserspubliek.
Wat hierdie resultate wel vir ons gee, is maatstafresultate (benchmark results) waarteen ons ander, toekomstige meningspeilings kan gaan meet. Soos dr Jason Marshall in sy blog opmerk: "… looking at multiple polls can help you get a more accurate view of what people really think."
Is hierdie meningspeiling verteenwoordigend van die Maroela Media-leserspubliek?
Hoewel geen demografiese inligting beskikbaar is oor die 3 423 mense wat aan die meningspeiling deelgeneem het nie, kan ’n mens wel ’n paar veralgemenings maak deur na die data in Maroela Media se inligtingstuk vir adverteerders te kyk.
- Tweederdes van die gebruikers is vroue.
- 60,2% van die Suid-Afrikaanse gebruikers woon óf in Gauteng (32,1%), óf in die Wes-Kaap (28,1%).
- Die ouderdomsverspreiding (vanaf 15 jaar oud tot 60+) is baie eweredig met geen werklike uitskietersgroep nie. Die geskatte gemiddelde (estimated average) ouderdom is tussen 35 en 45.
- Inkomstegewys is daar nie genoeg inligting tot my beskikking om akkurate afleidings te maak nie. Die meeste mense (16.64%)6In hierdie geval is dit die modusgroep (modal group). Kyk hier vir ’n verduideliking. verdien geen inkomste nie (byvoorbeeld studente, persone wie se eggenote die enigste broodwinners is, ensovoorts); die tweede grootste groep (15,66%) blyk in die ontluikende middelklas7Hierdie inkomstegroepkategorieë is baseer op kategorieë wat deur die Buro vir Marknavorsing aan Unisa gebruik word. te val. As ’n mens na die gemiddeld kyk, lyk dit asof hulle lesers in die gerealiseerde middelklas val. Meer en presieser data is egter nodig om akkurater interpretasies te gee.
Vervolgens is die vraag of hierdie steekproefgroep (die 3 423 deelnemers) statisties verteenwoordigend van al Maroela Media se gebruikers is. Ons kan op ten minste twee maniere daarna kyk:
- Is die steekproef verteenwoordigend van al die Maroela Media-gebruikers? Volgens hulle inligtingstuk het Maroela Media in 2019 (tot einde November) byna 2,3 miljoen unieke besoekers gehad. As ’n mens werk met ’n vertrouenspeil (confidence level) van 99%, dan gee ’n steekproefgrootte van 3 423 vir jou ’n foutgrens (margin of error; error level) van ±2%8Hierdie foutgrens is bereken met Custom Insight se Survey Random Sample Calculator.. Soos hulle in Engels sê: This is (about) as good as it gets … Want as ons in die toekoms weer dieselfde meningspeiling onder Maroela Media se gebruikers sou doen, kan ons baie seker wees dat ons resultate met nie meer as 2% van hierdie resultate sal verskil nie.
- Is die steekproef verteenwoordigend van al die Maroela Media-gebruikers wat moontlik die meningspeiling gesien het? Al het Maroela Media byna 2,3 miljoen unieke gebruikers in 2019 (tot einde November) gehad, beteken dit nie almal van hulle was op Maroela Media se webblad/toepassing in die week wat die meningspeiling gedoen is nie. Die bladsygedeelte waar die meningspeiling verskyn het, het 502 966 keer vertoon, maar slegs 3 423 keer het lesers gekies om deel te neem. Selfs met ’n populasie van net oor ’n halfmiljoen, is die foutgrens steeds 2%.9Ook al is die totale populasie maar slegs 75 000, dan het ’n steekproefgrootte van 3 423 steeds ’n foutgrens van 2%, soos bereken met Custom Insight se Survey Random Sample Calculator.
In gewone taal: As Maroela Media in die toekoms weer hierdie meningspeiling sou doen, kan ons 99% seker wees dat die resultate met nie meer as 2,2% van die huidige resultate sal verskil nie. So, in die toekoms mag 8% mense dalk sê dat hulle nie vloek nie, maar ons kan baie seker wees dat dit nie 10% sal wees nie. Hoekom nie? Juis omdat hierdie steekproef statisties verteenwoordigend is van Maroela Media se gebruikerspubliek.
Is die resultate betroubaar?
Kom ons veronderstel elke vyfde deelnemer het dieselfde antwoord gekies. Ons sou dan ’n volledig lukrake gelykopverdeling (equal proportions) tussen al die opsies hê: ongeveer 685 per opsie. Dit is egter nie wat gebeur het nie. Die vraag ontstaan nou of die verdeling van die meningspeiling statisties beduidend is. (Lees gerus ons maklike verduideliking van wat statisties beduidend beteken.) As ons ’n statisties beduidende resultaat kry, beteken dit dat ons die resultate kan vertrou en kan voorspel dat ons dieselfde tipe verdeling in ’n herhaling van die meningspeiling sou kry.
As ’n mens nou ’n chi-kwadraatpassingstoets (chi-square goodness-of-fit test) doen om te bepaal of ewe veel respondente elk van die vyf opsies gekies het (dus ≈685 per opsie), dan dui die toets daarop dat die verdeling tussen die vyf opsies inderdaad nie gelykop was nie (χ²(2) = 1 670,50, P < 0,00001). Die resultaat is dus beduidend vir p < 0,01 (d.i. vir ’n 99% vertrouenspeil).
In mensetaal? Daar is baie sterk aanduidings dat ons dieselfde resultate sal kry as ons die meningspeiling weer onder Maroela Media se leserspubliek sou doen. So gesien is die resultate dus baie betroubaar.
Tot slot
Dit is alles goed en wel om betroubare resultate te kry, maar ons moenie vir ’n oomblik vergeet van al die slaggate waarin hierdie meningspeiling reeds getrap het nie – soos ek aan die begin van hierdie blog geargumenteer het. ’n Halwe eier is wel beter as ’n leë dop, maar onthou maar die waarskuwing van Robert Ford en sy kollegas in ’n blog vir die Royal Statistical Society:
But the margin of error is only applicable to random sampling error, and none of the opinion polls reported in the media today could be described as pure random probability polls. At a minimum, samples are reweighted to be representative of the demographics of the general population, while pollsters must deal with potential for systematic errors introduced by non-response (e.g. those in the population who do not answer their phones or do not own them at all). Internet pollsters, in particular, must account for their samples being self-selecting and likely more educated and wealthier than the general population.
Robert Ford, Will Jennings, Mark Pickup & Christopher Wlezien Tweet

Gerhard B van Huyssteen
Erkenning
Met dank aan Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, wat goedgunstig die data en addisionele inligting met my gedeel het. Dankie ook aan keurders en ander lesers vir hulle waardevolle kommentaar.
Uiteraard bly alle denk- en berekeningsfoute myne.
Bronne
- Bolarinwa, Oladimeji Akeem. 2015. "Principles and methods of validity and reliability testing of questionnaires used in social and health science researches." The Nigerian postgraduate medical journal 22 (4):195-201. doi: 10.4103/1117-1936.173959.
- De Vries, Reinout E., Benjamin E. Hilbig, Ingo Zettler, Patrick D. Dunlop, Djurre Holtrop, Kibeom Lee, and Michael C. Ashton. 2018. "Honest People Tend to Use Less-Not More-Profanity: Comment on Feldman et al.’s (2017) Study 1." Social Psychological and Personality Science 9 (5):516-520. doi: 10.1177/1948550617714586.
- Dewaele, Jean-Marc. 2016. "Self-reported frequency of swearing in English: do situational, psychological and sociobiographical variables have similar effects on first and foreign language users?" Journal of Multilingual and Multicultural Development 38 (4):330-345. doi: 10.1080/01434632.2016.1201092.
- Feldman, Gilad, Huiwen Lian, Michal Kosinski, and David Stillwell. 2017. "Frankly, We Do Give a Damn: The Relationship Between Profanity and Honesty." Social Psychological and Personality Science 8 (7):816-826. doi: 10.1177/1948550616681055.
- Feldman, Gilad. 2018. "What is honesty? Laypersons interpret high lie-scale scores as reflecting intentional dishonesty." Social Psychological and Personality Science.
- Flom, Peter. 2019. "Statistics 101: Polls and surveys." Peter Flom – The Blog. 9 May. medium.com.
- Ford, Robert, Will Jennings, Mark Pickup, and Christopher Wlezien. 2015. "Polls, polls and damn statistics…." StatsLife, 11 December. www.statslife.org.uk.
- Glen, Stephanie. 2014. "Confidence Level: What is it?" Statistics How To (blog). 14 October. www.statisticshowto.datasciencecentral.com.
- Glen, Stephanie. 2014. "How to find a critical value for any confidence level (i.e. 90%, 95% etc.) in easy steps!" YouTube channel. 28 October.
- Kent State University Libraries. 2019. "Frequencies for Categorical Data." SPSS tutorials: Frequency tables. 29 November. libguides.library.kent.edu.
- Laerd Statistics. 2015. "Statistical tutorials and software guides." https://statistics.laerd.com/.
- Marshall, Jason. 2016. "How to Use Statistics to Understand Poll Results." Quick and Dirty Tips (podcast/blog). 1 January. www.quickanddirtytips.com.
- Vagias, Wade M. 2006. Likert-type scale response anchors. Clemson International Institute for Tourism & Research Development, Department of Parks, Recreation and Tourism Management: Clemson University.
Blogstatus en -geskiedenis
Geskiedenis (teruglopend)
- 2019/12/29: Publikasie in openbare domein.
- 2019/12/18: Bywerking van kommentaar van eerste vier keurders.
- 2019/12/11: Finalisering van konsep. Beskikbaar vir ewekniekeuring en kommentaar.
- 2019/12/11: Plasing van konsep.
Haal hierdie blog aan
Van Huyssteen, Gerhard B. 2019. "Vloek Afrikaanssprekendes regtig nié? Resultate van ’n eerste grootskaalse meningspeiling". Vloekcoza-blog. https://vloek.co.za/blogs/navorsing/vloek-afrikaanssprekendes-regtig-nie