- Laster (of eerskennis; Engels slander, libel) is die proses waardeur iemand se goeie naam geskend word, dikwels deur opsetlik of kwaadwillig onwaarhede te verkondig.
- Godslastering (of heiligskennis, blasfemie; Engels sacrilege, blasphemy) is die proses waardeur 'n godheid of heilige persoon, voorwerp of plek onteer word, meestal deur die ydellike gebruik van 'n naam.
- Godslasteringe kan versag word (byvoorbeeld jissie vir Jesus, of gits vir Gods), of juis krasser gemaak word (soos jissis vir Jesus, of gots vir Gods).
- Dit gebeur veel minder dat godslasteringe doelbewus humoristies geskep of gebruik word.
Inhoudsopgawe
Die vloekwoordeskat van enige taal wemel van sogenaamde bastervloekwoorde (Eng. “minced oaths”), d.i. taboewoorde wat op een of ander manier verdraai word om die woord onskuldiger te maak. Dink maar aan blikemmer in plaas van bliksem, of O koek! in plaas van O kak!. Dis egter veral sogenaamde godslasteringe wat dikwels verdraai word.
Die verskynsel om die naam van ‘n godheid te verdraai, is eeue oud en kom in talle godsdienste en tale voor. Byvoorbeeld:
- Afrikaans: Krisis! in plaas van Christus!
- Engels: Jis! in plaas van Jesus! (opgeteken in 1528)
- Nederlands: Potvolblomme! in plaas van Godverdomme! (oorspronklik ‘n verkorting van God verdoem my as ek nie die waarheid praat nie)
Maar hoe kom dit dat ons sulke bastervloekwoorde in taal het?
Ortofemismes
Name wat in formele kontekste gebruik word, staan bekend as ortofemismes, d.i. konstruksies wat taboes op neutrale, formele, of "korrekte" wyse uitdruk of benoem. In akademiese geskrifte, in howe, in plekke van aanbidding, of in gesprekke oor godsdiens – om maar enkeles te noem – is daar gewoonlik gestandaardiseerde maniere om na heilige persone, plekke of voorwerpe te verwys. Enkele voorbeelde in politeïstiese godsdienste sluit in:
- die Hindoe-opperwese विष्णु (Sanskrit, geromaniseer as Vishnu of Wisjnoe);
- die Shinto-songod 天照大御神, 天照大神 (Japannees, geromaniseer as Amaterasu-Omikami); of
- die zoroastristiese skeppergod اهورا مزدا (Persies, geromaniseer as Ahura Mazda).
In die monoteïstiese, abrahamitiese godsdienste (wat Abraham as die stamvader van die volk Israel sien, met ander woorde Judaïsme, die Christendom en Islam) is die oorkoepelende ortofemisme in verskillende tale byvoorbeeld onderskeidelik:
- יהוה in Hebreeus (geromaniseer as onder andere JHWH, YHVH, Jahweh);
- Θεός in Grieks (geromaniseer as Theos);
- ٱلْإِلَٰه verkort tot ٱللَّٰه in Arabies (geromaniseer as Allah);
- 神 in Chinees (geromaniseer as Shén);
- Gott in Duits, Dieu in Frans, Modimo in Noord-Sotho; Nkosi in Zoeloe, en so meer; en
- God in Afrikaans, Engels en Nederlands.
Antonomasieë
ʼn Interessante subtipe onder ortofemismes, is sogenaamde antonomasieë: konstruksies wat in die plek van ortofemismes gebruik word ter wille van respekvolle vermyding. Die verskynsel antonomasie (of antonomasia) is ʼn stylfiguur wat ook naamsvervanging of naamsverwisseling genoem word. In niegodsdienstige kontekste kry ons byvoorbeeld The Boss (Bruce Springsteen), die Ystervrou (Margaret Thatcher), Die Seun Wat Bly Leef Het (Hary Potter), of Hy-Wat-Nie-Genoem-Moet-Word-Nie (Harry se boosaardige vyand).
In godsdienstige kontekste is voorbeelde van antonomasie volop. Reeds in die Griekse mitologie het die Griekse halfgod Rhadamantys byvoorbeeld beveel dat die name van gode nie ydellik gebruik mog word nie: Gewone mense moes eerder indirek na die gode verwys as byvoorbeeld die ram, eend of plataanboom. In die Hindoe-geloof het Vishnu selfs meer as ‘n duisend name waarmee verskillende aspekte van dié god uitgelig word.
Dit is soortgelyk aan verskillende strominge in die abrahamitiese godsdienste. In die boeke Shemot/Eksodus (~20:2-17) en Devarim/Deuteronomium (~5:6-21) van die Torah/Pentateug, word ‘n verbod geplaas op die ydellike gebruik van die naam van die God van Abraham. Ten einde die derde gebod na te kom, word talle ander respekvolle name (dus antonomasieë) as plaasvervangers vir die ortofemisme gebruik, waaronder:
- HaShem (‘die Naam’), Adonai, Elohim en Shaddai in Hebreeus;
- al-Malik, As-Salam en al-Fattah in Arabies; en
- EK IS, Majesteit, my Here, die Skepper, en so meer in Afrikaans.
Al hierdie name word binne bepaalde religieuse kontekste gebruik, byvoorbeeld in ‘n sinagoge, tempel, kerk of moskee, asook in allerlei godsdienstige geskrifte. Ook in informele gesprekke tussen gelowiges, of in persoonlike of openbare gebede (byvoorbeeld by ʼn biduur of tydens Bybelstudie) word hierdie respekvolle name dikwels gebruik.

Eufemismes en disfemismes
Buite hierdie godsdienstige kontekste, en desnieteenstaande enige wette, reëls, of voorskrifte, gebruik mense wel die name van heilige wesens op allerlei ander maniere in alledaagse spraak. Hulle kom gewoonlik in twee geure:
- Eufemismes is konstruksies wat taboes op ‘n versagtende, ontwykende manier uitdruk of benoem. Sulke eufemismes is dikwels bastervloekwoorde (met ander woorde verdraaiings). In niegodsdienstige kontekste, dink aan versagtende woorde vir feses soos poef (in plaas van die Nederlandse poep wat feses beteken) of akkies (in plaas van kakkies of kak). In godsdienstige kontekste kry ons in Afrikaans onder andere gits en gonna (vir God), kriek of krisis (vir Christus), allemapstieks (vir Almagtige), en hordes ander. In Engels is daar onder andere OMG (vir Oh my God), die spelling Gawd (in plaas van God), of Shakespeare se ‘sblood vir by God’s blood.
- Disfemismes word op ‘n teenoorgestelde manier as eufemismes gebruik, naamlik om iets so hard en skokkend as moontlik te benoem. Feses word dan kak of stront, terwyl woorde soos jirre, jissis, en gots juis harder klink as Here, Jesus of God.
Humorismes
Naas ortofemismes (“korrekte” woorde), eufemismes (versagtende woorde) en disfemismes (skokkende woorde), kan ook nog ʼn vierde soort onderskei word, te wete humorismes. Humorismes is woorde wat doelbewus geskep en gebruik word om grapperig te wees – om die leser/hoorder te laat (glim)lag. Dink byvoorbeeld aan boudkappertjie of rugridder (‘gay man’), of shut the front door in plaas van shut the fuck up.
Humorismes met betrekking tot die religieuse domein, is myns insiens nog skaars, omdat mense se persepsie van wat snaaks is, groot verskille kan toon. Persoonlik het ek gelag toe ek die eerste keer die priester (James Norton) Christ on a bike in die reeks Grantchester hoor sê het. Maar nie almal sal noodwendig dink dit is snaaks nie …


Onlangs sien ek op Facebook ʼn plasing wat ek dink wel ʼn doelbewuste poging tot ʼn humorisme was. In ‘n baie bekende fopprofiel op Facebook (waarin dikwels ook politieke en sosiale kommentaar gelewer word) is ʼn plasing gemaak oor ʼn homofobiese besluit van die Muslim Judicial Council. Die gebruiker sluit sy/haar plasing af met die disfemisme Meigot!, wat ek vir die eerste keer sien en nie elders kan opspoor nie; dit is dus ‘n nuutskepping. Maar dit is ‘n ander gebruik se reaksie, Allah-magtig!, wat eintlik hier ter sprake is. Dis ‘n pragvoorbeeld van ‘n verdraaiing en versmelting van Allah, Almagtige en die reeds bestaande bastervloekwoord allamagtig (ook gespel allamagtag, allemagtag of allemagtig). Die feit dat laasgenoemde dikwels as ʼn berisping, of as ʼn uitroep van verontwaardiging gebruik word, maak hierdie woordskepping binne hierdie konteks (as negatiewe reaksie op ʼn saak in die Moesliemwêreld) dus skerpsinnig (en potensieel humoristies).
Ken jy nog sulke humorismes wat in Afrikaans gebruik om na heiliges te verwys? Laat asseblief gerus van jou hoor.

Gerhard B van Huyssteen
Erkenning
Dankie aan keurders en ander lesers vir hulle waardevolle kommentaar. Uiteraard bly alle denkfoute myne.
Bronne
- التكوين 1 | SAB Bybel | YouVersion (bible.com)
- Abrahamitiese gelowe – Wikipedia
- Ahura Mazda – Wikipedia
- Allan, Keith & Kate Burridge. 1991. Euphemism and Dysphemism: Language Used as Shield and Weapon. New York/Oxford: Oxford University Press.
- God in Abrahamic religions – Wikipedia
- Holder, R. W. 2002. How Not to Say What You Mean: A Dictionary of Euphemisms. 3rd edn. Oxford: Oxford University Press.
- Keyes, Ralph. 2010. Euphemania: Our Love Affair with Euphemisms. New York: Little, Brown and Co.
- Minced oath – Wikipedia
- Names of God – Complete list from Hebrew and the Bible (godisreal.today)
- Names of God – Wikipedia
- Rabab’ah, Ghaleb & Ali M. Al-Qarni. 2012. Euphemism in Saudi Arabic and British English. Journal of Pragmatics 44. 730-743.
- Ten Commandments in the Quran (All parts) – The Religion of Islam (islamreligion.com)
- Ten Commandments – Wikipedia
- The Names of God (part 1 of 3): Who is Allah? – The Religion of Islam (islamreligion.com)
- Van Huyssteen, Gerhard B. 2022. Drie duisend f-bomme en granate: Temas in vergelykende vloekkunde [Three thousand f-bombs and grenades: Themes in comparative maledictology]. Keynote speaker: Conference of the Suid-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek [South African Society for Dutch Studies]. Nijmegen: Radboud University.
- What it Really Means to Take the Lord’s Name in Vain (crosswalk.com)
Blogstatus en -geskiedenis
Geskiedenis (teruglopend)
- 2022/09/06: Finalisering van konsep. Beskikbaar vir ewekniekeuring en kommentaar.
- 2022/08/29: Verspreiding van konsep aan Vloekcoza-redaksie.
Haal hierdie blog aan
Van Huyssteen, Gerhard B. 2022. "Kan godslastering ooit humoristies wees?". Vloekcoza-blog. https://vloek.co.za/blogs/navorsing/kan-godslastering-humoristies-wees