
Vloekwoorde in Afrikaanse hiphoplirieke – ʼn verkenning
Ik wil applaus met die kut (‘Ek wil applous kry saam met daardie poes’), Ik bijt je fokking kop eraf (‘Ek sal jou fokken kop afbyt’) en Frisse shit, kakkerlak lik m’n pik (‘Vars kak, kakkerlak lek my piel’). Dis net ʼn paar reëls uit tekste deur die Nederlandse hiphopkunstenaars De jeugd van tegenwoordig, Duvelduvel en Fresku. Ek het hierdie sinne natuurlik nie verniet gekies nie – ek probeer hier ʼn punt maak.
ʼn Hele reeks vloekwoorde kan in Nederlandse hiphoplirieke gevind word. Dit is dus nie verbasend nie dat damn, shit en fuck onder die top-10- “nederhopste” woorde is, soos blyk uit die resultate van navorsing deur Vivien Waszink, Alex Reuneker en Ton van der Wouden. Nederlandse rappers verkies om oor geld te rap – money en cash is in die eerste en tweede plek – maar hulle is beslis nie skrikkerig vir ʼn vloekwoord hier of daar nie.
Hoe staan sake in Afrikaanse hiphoplirieke met betrekking tot vloekwoorde? Deur ʼn soektog in Spotify het ek op verskeie Suid-Afrikaanse hiphopkunstenaars, wat (meestal) in Afrikaans rap, afgekom. Vir hierdie verkennende ondersoek het ek vier liedjies met vloekwoorde deur vier verskillende kunstenaars gekies om die volgende vrae te probeer beantwoord: Watter soort vloekwoorde kom in hierdie lirieke voor, en hoe word hierdie woorde gebruik?
Die eufemismes van Bittereinder
In die snit Kwaadnaas is daar baie kodewisseling tussen Engels en Afrikaans. Die lirieke is nou nie so deurspek van vloekwoorde soos in Nederlandse hiphoplirieke nie, maar daar is beslis vloekwoorde daarin te vind, byvoorbeeld die Engelse idiot in die volgende reëls:
en dit was first language pappie, ek lees T.S. Eliot
jakkals prys sy eie stert, daai ou’s maar ʼn idiot
Ook kom die skelwoord soutie en (naas pommie) in die teks voor. Soos Afrikaanssprekendes sal weet, kom soutie van soutpiel af, wat letterlik ‘soutpenis’ beteken. ʼn Soutie staan as’t ware met een been in Suid-Afrika en die ander in Engeland. Waar hang sy penis dan? Reg! In die sout see …
Dit is opvallend dat Bittereinder verkies om die woorde flippin of flip in plaas van fokken of fok te gebruik:
‘oh flip, daar’s niemand, ons verbrand nou ʼn brug’
Hulle gebruik dus sogenaamde bastervloeke (verdraaiings van vloekwoorde) as eufemismes, wat eintlik die “teenoorgestelde” van vloekwoorde is, wat gewoonlik disfemisties gebruik word.
Die vroue van Biggy
Die naam van die snit Dames klink nogal beleefd, maar tog het Biggy geen probleem om die woord boude te gebruik nie:
ge-hypnotize met daai boude
Maar is boude nou enigsins ʼn vloekwoord in Afrikaans? Wel, gegewe die bohaai oor Anton Goosen se liedjie Boude in 1983, toe die liedjie deur die SAUK gesensureer is, wil dit wel lyk of die gety radikaal gedraai het. Daar word gereeld oor boude in Afrikaanse hiphopmusiek gesing, byvoorbeeld in Boude van Loufi, of in Kevboii se Stoute Boude. Selfs in popmusiek is boude nie meer ʼn vreemde woord nie. Dink maar aan Pieter Koen se Boobs boude bene, of Ricus Nel se onlangser weergawe van Worsie Visser se Wikkel daai boude.
Hiphopkunstenaar Early B gee (skep?) selfs ʼn nuwe naam vir boude …
Early B se boude
In die liedjie Potte van Early B saam met Jack Parow en Justin Vega staan die vroulike agterstewe weereens sentraal. Die woord potte as sinoniem vir boude – kennelik spesifiek pragtige boude! – is ʼn voorbeeld van hiphoptaal, of andersins gewoon straattaal (slang). Waarom sê ek so? Want in geen van die bestaande verklarende Afrikaanse woordeboeke (van Standaardafrikaans) word aangedui dat potte na boude kan verwys nie.
Afgesien van die eufemisme potte bevat die teks ook flippen in plaas van fokken:
goodness, gracious, curvaceous, so flippen reg, it’s insane is
Hy gebruik wel die intensiverende woord moerse, wat wel enigsins ʼn hoër taboewaarde as flippen het, maar wat eintlik steeds maar ‘n mak vloekwoord is:
my man is ʼn moerse fan
Jack Parow se fokken
Die man wat, op grond van hierdie verkennende ondersoek, die vuilbekste blyk te wees, is Jack Parow. Met sy ruimskootse gebruik van fokken in die liedjie Cooler as Ekke kom hy die naaste aan die vloektaalgebruik in Nederhop. Dus geen eufemismes vir Jack nie!
Die hele snit is ʼn soort afmaak (“dis”) van mense wat dink hulle is cooler as hy:
Jy dink jy’s cooler as ekke,
Want jy’t ‘n tattoo van ‘n slang op jou tette
…
Jy’s innie bosse, ek rol innie vet shit
Jy’s boring soos liedjies ommie kampvuur
My styl slick sneak suutjies soos ‘n vampier
Jou styl kak sag soos ‘n pink marshmallow
Kommentaar is gesluit.